albedo — Afrikaans

Sonenergie word in die vorm van kortgolfstrale vanaf die son ontvang en word insolasie genoem. Die Aarde se oppervlak reflekteer ’n sekere hoeveelheid van die radiasie wat ontvang word terug na die atmosfeer. Die verhouding tussen die hoeveelheid inkomende en gereflekteerde radiasie word as ’n persentasie uitgedruk en staan as die albedo bekend. Die eienskappe van die Aarde se oppervlak bepaal die persentasie radiasie wat weerkaats word, en hierdie eienskappe verskil van plek tot plek. Watermassas, graslande, ekwatoriale oerwoude, woestyne, ysmassas, en stedelike gebiede het almal verskillende albedo’s. ’n Ysmassa reflekteer die meeste van die kortgolfstraling wat dit ontvang, maar donkergroen digbegroeide gebiede absorbeer die meeste van die straling wat ontvang word. Gevolglik verskil albedo van plek tot plek op die aardoppervlak. Ligkleurige gebiede soos sandwoestyne en ysmassas weerkaats baie meer radiasie as wat die donker-kleurige gebiede soos die oseane en die oerwoude doen.