Globale Noorde — Afrikaans

Die ruimtelike verspreiding (kyk “spatial distribution”) van die ontwikkelde (“ryk”) lande (kyk “development”) beskryf ’n baie spesifieke patroon. Die meeste van die ontwikkelde lande is in die noordelike halfrond geleë, met twee opvallende uitsonderings, naamlik Australië en Nieu-Seeland. Die ontwikkelde lande het hoë per kapita bruto nasionale produkte (BNP’s), hoë bruto binnelandse produkte (BBP’s) en hoë menslike ontwikkelendsindekse (MOI’e) (kyk “development”, “developing countries” en “countries in transition (CITs)”). Vanaf die laat-1960’s, en deur die 1970’s, het die gaping tussen die ontwikkelde lande en die ontwikkelende lande meer prominent en gepolitiseer geword. ’n Aantal internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies Organisasie (VN) en die Wêreldhandelsorganisasie (World Trade Organisation, WTO) het hulle navorsing oor die ryk-versus-arm diskoers en al die meegaande ekonomiese en politieke voortvloeisels verskerp. In 1980 het die VN die sogenaamde Brandt-verslag gepubliseer. Die verslag is vernoem na Dr Willy Brandt, die oud-Kansellier van die Federale Republiek van Duitsland (Wes-Duitsland) en ’n gerespekteerde voorstander van die Europese Ekonomiese Gemenebes (EEG), en op daardie stadium die Voorsitter van die VN se Brandt Kommissie. Met die oog op ’n vereenvoudigde beskrywing van die globale verspreidingspatrone van welvaart en ontwikkeling, asook armoede en onderontwikkeling is daar eenvoudig na die “ryk Noorde” en die “arm Suide” wat deur die sogenaamde Brandt-lyn van mekaar geskei word, verwys. Hierdie terme was reeds in die wetenskaplike asook die leke-literatuur ingeburger, maar toe die terme “ryk” en “arm” gestigmatiseer is, het gebruik van “globale” gebruiklik geword. Die Brandt-lyn het ’n baie spesifieke ligging en vorm. Dit sluit Japan en Suid-Korea in die ontwikkelde Noorde in en duik dan skerp suidwaarts om Australië en Nieu-Seeland ook in die Noorde in te sluit. Hoewel hierdie lyn steeds gebruik word, word dit vinnig oudmodies aangesien etlike ontwikkelende lande nou lande in oorgang (LIO’s) is en die BRICS-lande (kyk “development”) geniet geen spesiale voorsiening as die Brandt-lyn se ligging beskryf word nie.