hernuwing — Afrikaans

Die proses van herlewing en vernuwing van ou en vervalle stedelike buurtes. Veroudering skyn deel te wees van die normale ontwikkelingsgeskiedenis of -siklus van enige groot stad oral in die wêreld. Gewoonlik is dit die ou, historiese, oorspronklike stadskern en sentrale besigheidsdistrik of SBD (kyk “central business district”), en die ou hawe- en kaaigebiede wat in onbruik verval, agteruitgaan en verlate staan. Die dakloses, dwelmsmokkelaars, -verslaafdes, en prostitute neem gewoonlik daardie gebiede van die stad in, en ondeug en morsigheid gedy. Die skole en kerke raak ook vervalle omdat die meeste mense na die nuwer, meer moderne en hoër-klas voorstede ver van die ou SBD verskuif het. Maar op ’n sekere stadium besluit die privaatsektor, die professionele sektor, die mees welgesteldes in die bevolking, dikwels in samewerking met die stedelike owerhede, om die vervalle SBD op te knap en te vernuwe. Ou geboue word gerestoureer en in topvlak residensiële eiendomme en hoogs invloedryke besighede en kantore omskep. Die rykes, befaamdes en toonaangewende sakelui verskuif hulle woon- en ontspanningsbedrywighede terug na die hernude, spoggerige SBD en hawegebiede. Daar is talle voorbeelde oral in die ontwikkelde wêreld. In Suid-Afrika is die Waterfront in Kaapstad, die hawegebied in Durban en die ou SBD van Johannesburg tipiese voorbeelde, hoewel die vernuwing (“gentrification”) van Johannesburg se SBD nog ver van voltooiing is.