woudkwyning — Afrikaans
Die agteruitgang en uiteindelike verdwyning van natuurlike woude of aangeplante plantasies as gevolg van ’n aantal natuurlike oorsake, maar veral as gevolg van menslike aktiwiteite. Natuurlike klimaatsveranderinge, of ’n plaag of pes, of sekere diere kan woude vernietig. Dwarsdeur die menslike geskiedenis het ons die wegkwyning van enkele woude in Noord-Amerika en Europa beleef. Lang, abnormale koue of warm periodes het tot die vernietiging van enkele woude gelei. Swamme en kewers het oor die afgelope drie dekades gedeeltes van groot naaldboomwoude vernietig, maar nou het ons chemiese en biologiese kontroles om hierdie plae te beheer. Die savannawoude in Tsavo, Kenia, is deur ’n olifantoorpopulasie en ’n langdurige droogte uitgewis, maar toe het die olifante ook gesterf en nou is die natuur besig om te herstel en ’n nuwe balans is gevestig. Lawavloeiings en veldbrande het enorme skade aan sekere woude aangerig, maar hulle is vinnig besig om te herstel. Die ongeoorloofde afkapping van die hardehoutbome in die Amasone-kom, die Kongo-kom en in Suid-Oos-Asië veroorsaak onherstelbare woudskade. Die natuurlike woude van Tasmanië en Madagaskar is baie ernstig en onomkeerbaar beskadig. In Noord-Amerika en Wes-Europa het reuse gedeeltes van die denne- en naaldboomwoude en plantasies afgesterf as gevolg van industriële besoedeling en suurreën (kyk “acid rain” en “air pollution”). Globaal gesien, is woudkwyning ’n ernstige omgewingsvraagstuk omdat woude ons “suurstof-fabrieke” is.