voedselsekuriteit — Afrikaans

Die versekering dat daar altyd genoeg voedsel vir almal in die wêreld sal wees. Tweehonderd jaar gelede het Thomas Malthus voorspel dat die mensdom in die (toe) nabye toekoms nie meer genoeg voedsel sal hê nie. Ons was egter 200 jaar lank in staat om meer as genoeg voedsel vir die ganse wêreldbevolking te produseer. Tegnologiese ontwikkelings, verbeterde graanvariëteite, besproeiing wat voedselverbouing in voorheen onproduktiewe gebiede moontlik gemaak het, en beleide om kommersiële landbou aan te moedig, het ’n groot styging in globale voedselproduksie sedert die sogenaamde Groen Rewolusie van die 1950’s tot gevolg gehad. Ongelukkig het meer as die helfte van die wêreldbevolking nie genoeg voedsel nie of ly letterlik honger. Die redes hiervoor is egter polities en ekonomies en nie ’n tekort aan voedsel wat geproduseer word nie. Daar word vandag meer as genoeg voedsel in die wêreld geproduseer om elke man, vrou en kind op Aarde oor en oor te voed, maar in Asië en veral Afrika is miljoene mense verhonger en selfs op die randjie van ’n hongerdood. Daar is ’n reuse diskordansie tussen voedselproduksie en voedselbeskikbaarheid. Voedselsekuriteit het ’n ganse studieveld geword en die Verenigde Nasies het selfs ’n agentskap om voedselproduksie en -verspreiding aan te moedig. Dit ervaar egter groot probleme om te verseker dat voedsel aan sterwende massas in sekere lande in Afrika gelewer word. Die uitdaging vir die toekoms is nie om genoeg voedsel te produseer nie, maar om die beskikbare voorraad te versprei na waar dit benodig word.