vrugbaarheid — Afrikaans

Die vermoë om afstammelinge te produseer. In Geografie word hierdie term meestal in verband met menslike bevolkings en bevolkingsgroei gebruik. In die meeste wetenskappe word vrugbaarheid beskou as die vermoë van elke vroulike lid van die bevolking om afstammelinge te produseer. In sekere bevolkings produseer vroulike lede minder afstammelinge as in ander. Die fertiliteitskoers (vrugbaarheidskoers) is die maatstaf wat gebruik word om die aantal afstammelinge wat elke vroulike lid sal produseer, uit te druk. Die totale fertiliteitskoers (TFK) is die aantal babas wat elke vrou in die bevolking volgens verwagting sal hê. Tans is die wêreldfertiliteitskoers (die globale TFK) 3,1. Aangesien dit ’n globale gemiddeld is, verskaf dit nie baie inligting oor enige spesifieke gebied of land nie. In die meeste Afrika-state het vroue dikwels agt tot elf kinders, maar in ander lande het hulle een of twee of drie kinders. In China was mense jarelank nie toegelaat om meer as een kind te hê nie (’n beperking wat nou opgehef is). Die fertiliteitskoers reflekteer nie noodwendig die bevolkingsgroeikoers nie omdat babas en kinders kan sterf. Die gemiddelde aantal kinders wat elke vrou na verwagting kan hê, is tog ’n goeie aanduiding van hoe vinnig die bevolking moontlik kan groei, en dít is ’n baie handige statistiek om verskillende bevolkings met mekaar te vergelyk.