terugvoerlus — Afrikaans

’n Ondergeskikte, herhalende siklus binne ’n groter oop sisteem van energie- en materievloei. Die meeste oop sisteme bevat talle terugvoerlusse. Sulke sisteme funksioneer op ’n responskontrole beginsel. Op ’n sekere stadium in so ’n sisteem vloei genoeg energie en materie (wat potensiële energie is), voorwaarts in die sisteem om ’n drempelwaarde te oorskry en ’n reaksie te veroorsaak. ’n Eenvoudige voorbeeld van só ’n terugvoerlus is die vloei van voortvlugtendes of onwettige immigrante tussen twee aanliggende lande. ’n Aantal Zimbabwiërs het na Suid-Afrika migreer toe toestande in Zimbabwe vir hulle lewensgevaarlik geraak het. Hulle is nie weggewys nie, maar asiel of tydelike verblyfregte toegestaan en het ’n nuwe lewe begin maak. Dit het ander Zimbawiërs aangespoor om dieselfde te doen en sodoende is ’n tipiese positiewe terugvloerlus geskep. Indien die oorspronklike immigrante teruggestuur is, sou ’n volhoubare negatiewe terugvoerlus ontstaan het en al minder Zimbabwiërs sou na Suid-Afrika probeer kom, terwyl al meer van dié wat reeds hier was, sou probeer wegkom het. In natuurlike sisteme is terugvoer selfs meer algemeen. Die stroping van die plantegroei in ’n sekere gebied veroorsaak versnelde afvloei wat tot versnelde wegvoering van die bolaag en tot verlies van die hele bolaag lei. Indien ’n eroderende helling herbeplant word, tree ’n negatiewe terugvoerlus onmiddellik in werking en gronderosie word stopgesit sodat verdere erosie moontlik beheer kan word. Korrelasiediagramme (korrelasiestrukture) word gewoonlik gebruik om terugvloerlusse in ’n sisteem voor te stel.