ekstrapolasie — Afrikaans

Die oordrag van kwantitatiewe, empiriese navorsingsresultate van een studiegebied na ’n ander een sonder om vooraf te bepaal of dit in die ander gebied geldig sal wees. In etlike wetenskappe – en veral die ruimtelike wetenskappe soos Geografie – is sodanige oordragings en aannames uiters gevaarlik. In sekere spesialisasievelde in Geografie is ekstrapolasie wetenskaplik regverdigbaar, maar wanneer resultate op primêre, gebied-spesifieke data gebaseer is, moet dit met die grootste sorg gedoen word, of glad nie gedoen word nie, tensy daar teorie-gebaseerde regverdiging daarvoor is. Geograwe moet nooit goedskiks aanneem dat dít wat in een gebied geld ook in ’n ander gebiede geld nie. Anders as met interpolasie (kyk “interpolation”) waar veralgemening binne een en dieselfde gebied algemeen gebruik word, word ekstrapolasie of veralgemening tussen gebiede minder algemeen gebruik omdat dit moeiliker is om dit wetenskaplik te regverdig. In Geografie, moet sowel interpolasie as ekstrapolasie versigtig hanteer word. Onthou dat Geografie die studie van ruimtelike variasie is en die idiografiese of uniekheidsbeginsel moet nooit uit die oog verloor word nie (kyk “geodiversity” en “spatial interpolation”).