uitsterwing — Afrikaans
Die totale verdwyning van ’n spesie uit die globale ekosisteem. Die natuurlike omgewing se ewige, stadige verandering is miljoene jare lank al besig om tot die uitsterwing van tallose spesies dwarsoor die Aarde (op land asook in die oseane) aanleiding te gee, maar dit het ook tot die ontstaan van nuwe spesies gelei namate organismes aangepas het by die veranderende toestande. Uitsterwing geskied wanneer ’n spesie (plantaardig of dierlik) nie vinnig genoeg kan verander en evoleer om by die veranderde omgewingstoestande aan te pas nie. Dit is wat ongeveer 70 miljoen jaar gelede met die dinosourusse gebeur het. Die globale klimaat het droër en warmer geword en hierdie primitiewe reptiele en oerplante kon nie by die veranderde toestande aanpas nie en gevolglik het hulle uitgesterf. Die meeste van die diere-fossiele wat in die grotte by die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein voorkom, het reeds duisende of selfs miljoene jare gelede al uitgesterf. Die globale omgewing is voortdurend besig om te verander en as gevolg van hierdie natuurlike omgewingsveranderinge sal daar altyd sekere plante en diere wees wat op natuurlike wyse uitsterf. Globale natuurlike omgewingsverandering vind gewoonlik stadig plaas en talle spesies kan verander en aanpas, mits die verandering oor duisende of miljoene jare plaasvind. Die afgelope paar honderd jaar was menslike aktiwiteite die grootste oorsaak van versnelde uitsterwing. Sommige spesies is tot uitsterwing gejag, die beroemde dado en die Kaapse-kwagga is voorbeelde van diere wat as gevolg van jag uitgesterf het. Al die renoster spesies in Afrika en Asië skyn tot uitsterwing gedoem te wees. Die belangrikste en gevaarlikste mens-gemaakte (antropogene) oorsaak van uitsterwing is habitatverlies (kyk “environmental degradation”) habitat-degradasie en habitat-fragmentering. As gevolg van habitatverlies is die blou-swaeltjies van Kaapsche Hoop in Suid-Afrika byna uitgesterf. Met minder as 30 broeipare is die genepoel so klein dat die spesie waarskynlik verlore is. Habitatverlies is ook verantwoordelik daarvoor dat twee kraanvoëlspesies op die randjie van uitsterwing is. Suid-Afrika se nasionale voël, die gewone bloukraanvoël was byna uitgesterf toe sommige nie-regeringsomgewingorganisasies ingegryp het en ’n suksesvolle bewarings- en broeiprogram daargestel het. Die spesie is steeds bedreig, maar daar is darem hoop dat dit van uitsterwing gered kan word.