oorbenutting — Afrikaans
Die oorbenutting en uitbuiting van enige hulpbron – fisies of menslik. Oorbeweiding van weivelde, oorverbouing van landerye en die ontbossing van beboste gebiede sal gedegradeerde, geërodeerde en onproduktiewe land agterlaat. Die oorbenutting van ’n waterbron vir besproeiing of mynbou of die verdunning van besoedelde mynwater sal die water laat opdroog of die water sodanig besoedel dat dit nie meer bruikbaar sal wees nie. Menslike hulpbronne soos werkers in ’n fabriek of ’n myn kan ook oorbenut en uitgebuit word, maar dit sal heel waarskynlik tot arbeidsonrus, stakings en produksieverlies lei. Byna alle uitbuiting en oorbenutting het net een doel, naamlik winsbejag, en dit het een menslike swakheid as oorsaak, naamlik gierigheid. Die enigste uitsondering is waar arm mense geen ander opsie het nie en dus genoodsaak is om hulle grond-, water- en plantegroeihulpbronne uit te buit. Maar alle oorbenutting het net een uiteinde: omgewingsdegradering, onproduktiewe land, toenemende armoede, honger en ellende.