eskarp, eskarpement — Afrikaans

Die steil helling aan die rand van ’n plato of enige relatief gelyk-hellende hooglandgebied. Eskarpemente vorm dikwels skouspelagtige landskapstrekke. Die indrukwekkende Drakensberg-eskarpement soos gesien vanaf KwaZulu-Natal definieer die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho en is een van Suid-Afrika se mees gewilde toeristebestemmings (kyk “destination”). Vanaf Lesotho se kant is daar egter geen indrukwekkende eskarp-uitsig nie – trouens, die eskarp kan nie eers gesien word nie! Dit is presies hoe dit in alle hoogliggende plato-gebiede is – almal onder die eskarp staar na die eskarpement wat die plato begrens, maar op die plato self is daar niks om na te staar nie. Die oostelike Drakensberg-eskarp wat die sogenaamde Hoëveld van die Laeveld skei, is moontlik selfs meer indrukwekkend as dié tussen Suid-Afrika en Lesotho. Die ruwwe eskarp in Mpumalanga en Limpopo bied ook uiters gewilde toeristebestemmings veral aan buitelandse toeriste wat onderweg na die Kruger Nasionale Park is (kyk “intervening opportunity”).