billikheid — Afrikaans

In Geografie word hierdie term gebruik in verband met regverdigheid, redelikheid en onpartydigheid. Dit word dikwels in omgewingsbestuur gebruik in verband met omgewingsgeregtigheid en in omgewingsimpakbepalings, omgewingsmonitering, omgewingsouditering, ensovoorts (kyk “environmental justice”, “environmental monitoring” en “environmental auditing”). Hierdie omgewingsaksies moet redelik en regverdig uitgevoer word en nie in heksejagte verander nie. Maar insgelyks moet omgewingsimpakbepalings regverdig, redelik en onpartydig uitgevoer word en die belange van alle belanghebbendes moet in ag geneem word (kyk “affected and interested parties [AIPs]” en “environmental management”). Billikheid is uiters belangrik in die omgewingsbedryf waar geld so maklik die oorhand oor armoede kry. Die geforseerde verskuiwing van ’n arm gemeenskap om ’n gholfbaan op hulle grond aan te lê, is ’n kru – maar ongelukkig nie seldsame – gebeurtenis in ons moderne wêreld nie. Is dit billik of regverdig? Daar is egter nog ’n sin in Geografie waar die term “equity” gebruik word, en dit is in ekonomiese geografie waar dit na aandele (op ’n aandelemark) verwys.