aggregasie — Afrikaans
’n Taamlik veralgemeende beskrywing van die ruimtelike verspreiding van ’n sekere veranderlike in ’n spesifieke gebied. In hul strewe om die ruimtelike verspreiding van ’n veranderlike te beskryf, dui geograwe die hele gebied of gebiede waar die veranderlike kan voorkom op ’n kaart van die studiegebied aan. Dit is soos om ’n growwe sif met groot gate te gebruik om die groter en kleiner korrels in ’n hoop rotspuin (kyk “weathering” en “mass wasting”) van mekaar te skei. Al die partikels groter as die grootte van sandkorrels word sodoende uit die hoop verwyder, maar ons weet dat die agterblywende hoop steeds partikels van verskillende groottes bevat. In ’n grafiese voorstelling kan ons ’n veralgemeende kaart van die ruimtelike verspreiding van ’n veranderlike, soos byvoorbeeld die welvaart in ’n stad, teken. Eerstens sal ons al die huise wat meer as R1 miljoen werd is in een groep saamgroepeer. Die gedeeltes van die stad waar die huise wat meer as R1 miljoen werd is, voorkom, word op ’n kaart aangedui. Ons mag vind dat sulke huise in ’n klein aantal (soos drie of vier) gebiede van die stad voorkom. Op hierdie wyse het ons dus ’n kaart van die verspreiding van welvaart in die stad geteken. Maar ons weet dat sommige van die huise in die afgebakende gebiede R10 miljoen of meer werd is, sommige is omtrent R5 miljoen werd, ander is tussen R1 miljoen en R2 miljoen werd en sommige is selfs minder as R1 miljoen werd. Ons het eintlik data ge-aggregeer – dit wil sê, ons het duur huise saamgroepeer en ’n veralgemeende prentjie van die verspreiding van welvaart in die stad geskep. Indien ons ’n fyner ontleding wil doen, sal ons die data binne elk van die “welvarende” gebiede in die stad deur sortering verder moet disaggregeer. Dan gebruik ons ’n strenger stel kriteria (soos ’n stel fyn siwwe met kleiner gaatjies) en ons onderskei tussen huise wat meer as R10 miljoen werd is en daardie huise wat tussen R8 miljoen en R9,9 miljoen werd is, ensovoorts. Die oorspronklike drie of vier geïdentifiseerde gebiede sal uiteenval en ’n groter aantal kleiner areas vorm. Sodoende het ons ’n meer gedetaileerde kaart geskep en ons voorstelling van die ruimtelike verspreiding van welvaart in die stad toon nou baie meer besonderhede en ons beskrywing is dus baie meer volledig. Presies dieselfde tegniek word vir alle tipes ruimtelike data gebruik, byvoorbeeld vir die beskrywing van die verspreiding van plantegroeitipes, die voorkoms van sinkgate, die verspreiding van vleilande, die verspreiding van vreemdelinge in ’n land, ensovoorts. (Kyk “disaggregation”.)