omgewingshulpbronne — Afrikaans

In die eng sin van die term, verwys dit na die goedere en dienste wat ons uit die omgewing verkry. Hierdie breë definisie bied egter probleme aangesien dit sowel natuurlike dinge as mense in die omgewing insluit. Daarom sluit dit sowel natuurlike as mensgemaakte goedere in (kyk “economic valuation”). Om sake te vereenvoudig, beskou ons normaalweg natuurlike goedere as omgewingshulpbronne. Dit sluit die lug, water, grond, plantegroei, rotse, minerale, natuurskoon, en selfs ’n pragtige see-uitsig in. Om ’n waarde aan hierdie hulpbronne toe te skryf is uiters moeilik. Verskillende benaderings kan hiervoor gebruik word. Daar is suiwer ekonomiese prosedures wat hiervoor gebruik kan word, maar ander metodes neem die “onmeetbare” bates, soos natuurskoon, ook in ag. Let daarop dat menige van hierdie hulpbronne vrylik beskikbaar is, maar om goud en diamante te ontgin, vereis ’n finansiële inset van ons kant af. Netso is ’n kuseiendom wat ’n lieflike see-uitsig het baie meer werd as een wat dit nie het nie. Omgewingshulpbronvaluasie (-waardasie) is ’n uiters belangrike konsep en proses binne die omgewingsbestuur- en omgewingsreg-dissipline (kyk “economic valuation”. As dit by eienaarskap kom, bied hierdie hulpbronne ons selfs groter probleme. Niemand of enige staat kan eienaarskap van die lug, die riviere, die see of ’n bergreeks toe-eien nie. Nogtans het ons verskillende prosedures en sisteme daargestel om eienaarskap van natuurlike hulpbronne te bepaal en te definieer omdat ons moet besleg oor vraagstukke soos: “wie besit die grond?”, “wie besit die minerale in die aardkors?”, “mag jou bure (of die buurstaat) die lug of water wat na jou waai of vloei, besoedel?”, “kan ons toelaat dat ’n myn die natuur reg langs ’n natuurreservaat verwoes?”, “behoort die vestiging van arm, uitgelewerde mense wat geen grond besit nie, in ongeskonde natuurgebiede toegelaat te word?”. In elke staat (land) word hierdie vrae volgens die land se regsstelsel en die vermoë (of wil) van die regmatigde owerhede om die reg af te dwing, besleg. In sommige lande, streke of areas kan ’n persoon – regmatig – maar onder sekere omstandighede, die “reg tot” iets soos ’n see-uitsig besit en niemand mag ’n hoë struktuur wat die uitsig versper, voor die “eienaar” oprig nie. Een tipe natuurlike hulpbron wat spesiale vermelding verg, is wat ons die “gemene besit” noem. Dit sluit die atmosfeer, die oseane, die varswaterbronne wat verskeie state begrens en bevloei, die weivelde wat in die besit van gemeenskappe is, ensomeer, in. Geen van hierdie hulpbronne “behoort” aan enige persoon of entiteit nie. Dit is daar vir almal om te gebruik. Aangesien dit aan niemand “behoort” nie, neem niemand verantwoordelikheid vir die volhoubare gebruik daarvan nie. Die meeste van hierdie hulpbronne is oor die afgelope klompie honderd jaar deur algemene gebruik uitgebuit (kyk “exploitation”) tot ’n punt van verwoesting of totale ineenstorting. Dit het inderdaad die “tragedie van gemene-besit” geword. Die Omgewingsbeweging wat in die vroeë 1960’s op dreef gekom het (kyk “ecocentrism”, “ecological citizenship”, “ecological niche” en “environmentalist”), is eintlik die kind gebore uit hierdie tragedie. Omgewingsgesindheid en omgewingsbestuur is, in hulle diepste aard, ’n strewe daarna om die goedere in “gemene-besit” te red en hulle volhoubare benutting te verseker.