omgewingspotensiaal — Afrikaans

’n Ekonomiese beraming van die vermoë van die natuurlike omgewingskomponente in ’n spesifieke gebied om sekere tipe ekonomiese aktiwiteite winsgewend te onderhou. Die omgewingshulpbronne in die gebied kan moontlik een of meer van die volgende onderhou: mynbou, toerisme, dorpstigting, landbou in die vorm van veeboerdery of akkerbou of albei, bosbou, visvangs, en menige meer. Indien die omgewing in ’n spesifieke gebied uitstekend geskik is vir die produksie van voedsel, sou dit onverstandig wees om ’n plantasie, ’n gholfbaan, of ’n residensiële kompleks daar te vestig. Dit sou, byvoorbeeld omgewingsgewys kortsigtig en uiters onverantwoordelik wees om alle skilderagtige, relatief ongeskonde gebiede in hoogs winsgewende gholfbane te omskep soos tans die praktyk is. Sekere attribute soos die voorkoms van ontginbare minerale, die nabyheid van ’n groot industriële ontwikkeling, nabyheid van ’n florerende toeristebestemming, of ’n lokaliteit aan die hoofweg na ’n gewilde natuurreservaat of wildtuin verhoog die omgewingspotensiaal van die eiendom. Die omgewingspotensiaal van die grondgebied word ook verhoog deur die voorkoms van argeologiese oorblyfsels en terreine op of naby aan die eiendom, asook grondgebied wat in of naby aan ’n godsdienstig-, kultureel- of geskiedkundigbelangrike gebied geleë is.