omgewingsorganisasies — Afrikaans

Sedert die internasionale, alles-omvattende Omgewingsbeweging in die vroeë 1960’s in die VSA begin het, het dit versprei tot elke uithoek van die wêreld. Talle omgewingsbewegings en -organisasies is internasionaal en regionaal gestig, terwyl tallose plaaslike organisasies gestig is. Eerder as om ’n ellelange lys hier te verstrek word jy uitgedaag om met behulp van jou studiemateriaal en hierdie woordelys self ’n lys op te stel. Begin met die hoë-profiel organisasies soos Greenpeace en eindig met jou eie plaaslike bewaringsvereniging (“conservancy”) en jy sal verbaas wees om te sien hoe lank die lys is. Onthou dat al hierdie organisasies saam ’n magshebbende drukgroep in elke amptelike liggaam soos ’n provinsiale of streeksregering en uiteindelik nasionale regering asook internasionale liggame soos die Verenigde Nasies vorm. Streng gesproke verwys “omgewingsbeweging” na nie-regeringsorganisasies (NRO’s), maar as gevolg van al die druk wat die NRO’s uitoefen, werk die amptelike en die nie-amptelike organisasies só nou saam (kyk “public-private participation”) dat dit oordrewe puntenerigheid sal wees om die amptelike liggame as afsonderlik te beskou. Om die waarheid te sê, die omgewing is waarskynlik die een uitsonderlike aspek van menslike belang waar die amptelike en nie-regeringsliggame dikwels saamwerk om ons brose omgewing te probeer red.