omgewingsmonitering — Afrikaans
Alle kontroles, metings, waarnemings, inspeksies en enige ander data-insamelingstegnieke wat gebruik kan word om die omgewingsimpakte van elke aspek van ’n ontwikkeling of aktiwiteit wat ingevolge die omgewingswetgewing van ’n land goedgekeur is (kyk “environmental auditing”), te bepaal. Die omgewingsoutoriteit benodig data om die omgewingsprestasie van ’n ontwikkeling of aktiwiteit te assesseer en vas te stel of die eienaar of ontwikkelaar of maatskappy al die stipulasies en voorwaardes in die omgewingsbestuursplan van die ontwikkeling of aktiwiteit nakom. Hierdie data word ingesamel deur ’n wye verskeidenheid metodes en tegnieke, en hierdie hele proses staan as omgewingsmonitering bekend. Op grond van die data wat tydens die moniteringsproses ingesamel word, kan die omgewingsoutoriteit die omgewingsouditering wat in die omgewingswetgewing voorsien word, uitvoer (kyk “environmental auditing”). As ’n voorbeeld van die rol wat omgewingsmonitering in omgewingsbestuur speel, kan die bestuur van kalksteengrotte genoem word. In kalksteengrotte wat vir die publiek oopgestel is en gewilde toeriste-aantreklikhede is (soos dié in die Wieg van die Mensdom Wêrelderfenisterrein), word die CO2-vlakke in die lug binne die grotte gereeld getoets. Besoekers adem (CO2) uit en kalksteen is oplosbaar in water met met CO2 versadig is (en eintlik ’n swak koolsuur-oplossing is). Die verhoogde CO2-konsentrasie kan versnelde verwering veroorsaak en sekere delikate grotelemente kan vining ernstig verweer of selfs vernietig word. Degradasie van hierdie grotte kan die toerismepotensiaal (kyk “destination” en “environmental potential”) nadelig beïnvloed.