OIB, omgewingsimpakbepaling — Afrikaans

Die administratiewe en reguleringsproses waardeur die omgewingsimpak van ’n voorgestelde menslike projek of aktiwiteit bepaal word. Dit is essensieël ’n voorspellingsproses. In Suid-Afrika, soos in baie ander lande, is dit ’n belangrike proses in die Geïnteregreerde Omgewingsbestuursprosedure (GOBP). Gebaseer op die omgewingsdata wat ingesamel is tydens die omgewingsevaluasiefase van die GOBP, en die inligting oor die projek of aktiwiteit wat deur die voorsteller verskaf is, word ’n wetenskaplike beraming (voorspelling) gemaak van die impak wat die voorgestelde ontwikkeling op die omgewing sal hê. Hierdie voorspellingsproses is omgewingsimpakanalise en vorm ’n integrale deel in die hele proses van omgewingsimpakbepaling. Verskeie tegnieke word gebruik om die voorspelling te maak. Sommige is hoogs wetenskaplike metings en modellering, terwyl ander van die kundige menings van wetenskaplikes asook die menings van die lekepubliek wat deur die ontwikkeling geraak mag word, gebruik maak. Laasgenoemde persone is wat as die geïnteresseerde en geaffekteerde partye (IAPs) – oftewel belanghebbendes – bekend staan en volgens die Suid-Afrikaanse omgewingswetgewing moet hulle menings ook in ag geneem word. Let daarop dat die terme “omgewingsimpakbepaling” en “omgewingsimpakanalise” dikwels verkeerdelik as sinonieme gebruik word. Wat nog meer verwarrend is, is dat “omgewingsimpakbepaling” en “omgewingsevaluasie” dikwels verkeerdelik as uitruilbare terme gebruik word. Die korrekte gebruik van al hierdie terme is duidelik gedefinieer in die literatuur wat die Suid-Afrikaanse Geïntegreerde Omgewingsbestuursprosedure (GOBP) beskryf asook in die Suid-Afrikaanse Nasionale Omgewingsbestuurswet, nommer 107 van 1998. Gevolglik behoort niemand die terme verkeerd te gebruik nie.