omgewingsouditering — Afrikaans
’n Bestuurshulpmiddel om die omgewingsprestasie van ’n maatskappy, organisasie, ontwikkeling of menslike entiteit of aktiwiteit te assesseer (takseer of evalueer). Dit is die beraming (of evaluering) van hoe doeltreffend die pogings om die ontwikkeling of menslike aktiwiteit se impak op die omgewing te beperk, is. Volgens die omgewingswetgewing van die meeste van die ontwikkelde lande en heelwat van die ontwikkelende lande moet amptelike toestemming (ook genoem “permitering”) verkry word alvorens daar met enige aktiwiteit wat moontlik ’n beduidende impak op die omgewing kan hê, begin kan word. Wanneer toestemming vir die voorgestelde aktiwiteit verkry is, word die omgewingsbestuursplan (OBP) vir die aktiwiteit ’n bindende kontrak wat die voorgestelde aktiwiteit of projek verplig om aan sekere voorwaardes en impakversagtingsmaatreëls te voldoen. Omgewingsouditering is die proses van bepaling of beraming van die mate waarin enige toegelate aktiwiteit voldoen aan die voorwaardes en impakversagtingmaatreëls wat in die omgewingsbestuursplan vervat is. Dit behels dat die bemagtigde gesagsliggaam die toegelate aktiwiteit (soos mynaktiwiteite, padbou en pad-instandhouding, ’n natuurreservaat, ’n vervaardiginsaanleg, ’n residensiële gholflangoed, of enige aktiwiteit wat deur die omgewingswetgewing van die betrokke land gedek word, gereeld inspekteer (moniteer) om vas te stel hoe nougeset die stipulasies van die omgewingsbestuursplan (OBP) nagekom word (kyk “environmental monitoring”). Sodoende word die omgewingsprestasie van gepermiteerde aktiwiteite en projekte geëvalueer. Let daarop dat omgewingsouditering nie die ondersoek of evaluering van die omgewing as sodanig is nie, maar wel ’n evaluering van die omgewingsprestasie van een of ander menslike instelling of aktiwiteit, dit wil sê hoe goed die spesifieke aktiwiteit, ontwikkeling of onderneming daarin slaag om omgewingsimpak tot ’n minimum te beperk en die onvermydelike impakte so goed moontlik te versag. ’n Ontwikkeling soos die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein het ’n voorspelbaar groot en ernstige impak (in die vorm van ’n groot getal besoekers, riolering, paaie, rommel en afval, toeristefasiliteite, die ontwrigting van alle natuurlike prosesse en die totale verwoesting van die habitatte van sommige plante en diere) op die omgewing (kyk “ecological footprint”). Gevolglik is daar vooraf ’n omvattende omgewingsbestuursplan vir die daarstelling en bedryf van die hele ontwikkeling opgestel en goedgekeur. Die gesagsliggaam (in hierdie geval die Departement van die Omgewing) is dan verplig om vas te stel hoe goed die ontwikkeling se omgewingsprestasie is en hoe streng die voorwaardes en stipulasies van die omgewingsbestuursplan nagevolg en uitgevoer word. Wêrelderfenisterreine is egter onder die jurisdiksie van UNESCO wat van tyd tot tyd die terreine moniteer en die bestuur assesseer . Indien die terreine nie na wense bestuur word nie, kan hulle van hulle wêrelderfenisterrein-status onthef word.