agglomerasie-ekonomie — Afrikaans

Etlike firmas met belange in dieselfde bedryf kies om in dieselfde gebied te vestig omdat hulle daardeur kostes kan deel en op hulle eie oorhoofse koste (bokoste) kan bespaar. Dit kan bewerkstellig word deur ooreenkomste en skakeling (links) tussen die firmas om saam te span en in grootmaat aankope te doen, werkers met spesifieke vaardighede op te lei, of ondersteuningsdienste (soos water- en elektrisiteitsvoorsiening) asook vervoerverpligtinge te deel, en werkers gesamentlik heen en weer na die werk te vervoer. Volgens Weber se industriële lokaliseringsmodel is agglomerasie die belangrikste enkele faktor in die ligging van firmas en industrieë, maar dit word nie sondermeer deur almal as korrek aanvaar nie. Motormonteringsaanlegte, paneelkloppers en vervaardigers van individuele motoronderdele is dikwels in dieselfde gebied geleë sodat hulle van die skaalbesparings (voordele van skaal) gebruik kan maak.