ekosisteem — Afrikaans
Die plante, diere en mikroörganismes saam met die fisiese en chemiese komponente van die omgewing waar binne en waarop hulle leef, vorm saam ’n ekosisteem. Ekosisteme bestaan dus uit lewende organismes, grond, water, lug, gesteentes en elke ander natuurlike of mensgemaakte entiteit wat op ’n spesifieke tyd binne ’n spesifieke gebied voorkom. In Geografie is ’n ekosisteem ’n ruimtelike konsep, dit wil sê dit bestaan uit al die bogenoemde komponente wat gesamentlik binne ’n spesifieke, definieerbare ruimte wat op ’n kaart afgebaken kan word, voorkom. Dit beteken glad nie dat ekosisteme geslote sisteme is wat effektief van alle ander ekosisteme rondom hulle afgesny is nie. Individuele diere wat in een spesifieke ekosisteem leef, kan rondbeweeg en interaksie met individue en komponente van ander ekosisteme hê. Verder ontvang alle ekosisteme sonenergie, water en lug asook fisiese en organiese insette vanaf die omringende omgewing, en sowel energie as materie verlaat die ekosisteem as sogenaamde uitsette. Gevolglik vloei energie en materie voortdurend in, deur en uit alle ekosisteme. Aangesien ekosisteme uit ’n verskeidenheid organismes bestaan, wat ’n voedselketting vorm, en anorganiese (nie-lewende) komponente voortdurend deur alle ekosisteme hersirkuleer word, het ekosisteme ’n sterk vermoë om hulself te onderhou en volhoubaar te wees. Sonder die verskeidenheid organismes en die voortdurende vloei van fisiese komponente en chemiese stowwe, sal enige ekosisteem uiteindelik ineenstort en ophou om te bestaan. Dit is ’n algemene wanopvatting dat ekosisteme heeltemal natuurlike sisteme is wat êrens in die landelike gebiede of in natuurreservate, of ten minste ver weg van stedelike gebiede soos Gauteng, voorkom. Dit is hoegenaamd nie korrek nie, aangesien alle stede uit duisende klein ekosisteempies (mikro-ekosisteme) bestaan. Elke enkele geboude struktuur en mensgemaakte artefak is deel van ’n ekosisteem.