ekonomiese waardebepaling — Afrikaans

Die bepaling van die ekonomiese of fiskale waarde van ’n nie-ekonomiese, natuurlike entiteit soos ’n renoster of ’n natuurpark of selfs ’n ontasbare entiteit soos ’n wildernis-ervaring. ’n Sekere waarde word toegeskryf aan die entiteit, maar die waarde word natuurlik bepaal deur die normale markkragte soos vraag en aanbod. In die geval van olifanttande, renosterhoring en ’n aantal ander natuurlewe-produkte, speel normale markmagte nie ’n rol nie, want die handel in hierdie items is onwettig. Die waarde van hierdie onwettige items word bepaal deur die onwettige voorraad en aanbod in die onwettige gedeelte van die ekonomie. Aan die wettige kant van sake word waardebepalings gewoonlik op grond van die wins wat die koper, die verkoper en die verhuurder kan maak en die tevredenheid wat die huurder of betalende gaste kan kry. ’n Lewendige renoster of olifant kan wettig gekoop word en die prys sal bepaal word deur die bereidwilligheid van die koper om ’n sekere prys te betaal (dis die beginsel van bereidheid om te betaal [willingness to pay {WTP}]) en die bereidheid van die verkoper om die prys te aanvaar (die beginsel van bereidheid om te aanvaar [willingness to accept {WTA}]). Die prys van die renoster is nie ’n ware weerspieëling van die waarde van die renoster nie, dit is slegs die prys wat tussen twee partye beding is. Die ware waarde van die dier is baie hoër want dit sluit sy/haar vermoë om te teel, besoekers na die reservaat te lok, die bestemmingsbeeld (kyk “destination image”) te bevorder, ensovoort in. Hierdie is die ontasbaarhede wat nie werklik waardeer kan word nie. In die omgewingsindustrie is ekonomiese waardebepaling ’n uiters moeilike proses. Hoe gaan mens in elk geval die waarde van die Kruger Nasionale Park, die Okavango-delta, of die Wieg van die Mensdom Wêrelderfenisterrein bepaal? Kortom, dit kan nie gedoen word nie. Gevolglik word die ekonomiese waarde deur klein items en dienste, soos vyf-ster toeriste-akkommodasie, uitstaande kookkuns, gasvryheid en dienste te midde van ’n besonderse natuurlike of kulturele omgewing verteenwoordig, maar ’n fiskale waarde word nie aan die omgewing as sodanig toegeskryf nie (tensy die grond verkoop word en daar ’n kortstondige verkoopprys – nie ’n waarde nie – aan ’n afgebakende gebied gekoppel word [kyk “demarcation”]). Om die koste van omgewingskade te bepaal, is selfs nog moeiliker, maar ons omgewingswetgewing maak voorsiening daarvoor dat die skuldige die rehabilitasiekoste moet betaal en dat strafmaatreëls in die vorm van geldelike boetes deur ’n hof teen die skuldige party uitgewys kan word. Ons weet hoeveel dit sal kos om ’n professionele diensverskaffer te ontbied om rommel wat onwettig gestort is, te verwyder. Ons kan egter nie ’n prys op die die omgewingsdegradasie as sodanig wat deur die storting veroorsaak is, plaas nie. Die boetes wat tot dusver in Suid-Afrika opgelê is, was te laag om as doeltreffende afskrikmiddels te dien. In Kanada, die VSA en die Wes-Europese lande is die boetes so hoog dat dit wel effektiewe afskrikmiddels is . Ontwikkelaars neem die boetes ernstig op en probeer om omgewingskade te voorkom. Ongelukke gebeur egter. In Kanada, die VSA en Wes-Europa neem ontwikkelaars en konstruksiemaatskappye duur versekering uit om hulle te dek in geval van ongelukke. Wanneer ons dink aan al die omgewingskade wat oor die eeue gedoen is, besef ons dat enigiets wat nou betaal word, te min en te laat is. Dink aan die omgewingsverwoesting wat tydens al die oorloë aangerig is (insluitend die twee kernbomme wat in 1945 op Japan afgegooi is), die ongeluk by die Three Mile Island-kernkragstasie, die Exxon Valdez-oliestorting in Alaska, die Deep Water-olieboorlekkasie in die Golf van Meksiko, die Chernobyl-kernramp in Rusland, die verwoesting in die Niger-Delta deur die invloedryke oliemaatskappye, die lekkasie van giftige gas by Bhopal in Indië, en so kan ons aanhou. Kan ons ooit hierdie skade in finansiële terme verreken? Natuurlik nie.