ekologie — Afrikaans

Die wedersydse verhouding tussen die lewende organismes en hulle habitat, oftewel die plaaslike omgewing waar hulle leef. Die term kom van die Griekse woord “oikos” wat ”tuiste” beteken. Ekologie is inderwaarheid die studie (of die wetenskap) van die wedersydse verhouding tussen ’n lewende organisme en sy onmiddellike omgewing. Dit sluit die atmosferiese, akwatiese, oppervlak- en grond- (edafiese) komponente – dit wil sê die fisiese (nie-lewende) komponente – asook die organiese (lewende) komponente van die omgewing in ’n spesifieke gebied in. Die grootte van ’n habitat van ’n spesie of spesifieke vorm van lewe varieer vanaf klein, gelokaliseerde areas (genoem mikro-habitatte) wat so klein as die onderkant van een enkele blaar kan wees, tot groot biome wat enorme oppervlaktes op Aarde kan beslaan (kyk “biome”). Die term “ekologie” word egter ook in ’n baie losser verband gebruik. Ons praat dikwels van die ekologie van ’n gebied of ’n streek wanneer ons eintlik na die eienskappe van die gebied of streek, eerder as die die studie van die onderlinge verhoudings tussen al die organiese en anorganiese komponente daarvan, verwys.