ekologiese nis — Afrikaans

Elke organisme in ’n ekosisteem het ’n spesifieke taak om te verrig (kyk “ecology”). Hierdie taak is die organisme se ekologiese nis. Twee of meer organismes kan nie lank dieselfde nis deel nie, want daar sal kompetisie ontstaan en een of meer van die organismes sal uit die nis verdryf word, of verander (evolueer) om aan te pas, of doodeenvoudig uitsterf. Miskruiers is ’n goeie voorbeeld van organismes wat ’n onontbeerlike ekologiese taak in die natuur vervul en daardie taak kan deur geen ander organisme vervul word nie. Die hersirkulering van mis is hulle ekologiese nis. Bye word nie dikwels as ekologies onontbeerlik beskou nie, maar hulle ekologiese nis (hulle ekologiese taak) is bestuiwing en sonder bye sal alle lewe op Aarde in gevaar gestel word, soos Rachel Carson in 1962 tydens die geboorte van die Omgewingsbeweging so paslik in haar boek Silent Spring beskryf het. Haar profetiese woorde word nou (in 2013) ontstellend waar, aangesien ’n massa-uitsterwing van bye in menige streke in die wêreld waargeneem word. Sedert 2006 rapporteer byboere in die VSA die uitsterwing van bye uit hulle korwe. Hierdie sogenaamde “krof-ineensortingsindroom (of CCD)” is tans die fokus van ’n dringende navorsingsveldtog in die VSA. Die byboere skryf dit aan die akkumulasie van insekdoders, plaagdoders en onkruiddoders in die omgewing toe, maar wetenskaplikes stem nie almal saam dat dit die enigste oorsaak van die rampspoedige verskynsel is nie. Sekere navorsingsresultate van ondersoeke deur vooraanstaande wetenskaplikes dui daarop dat die mikrogolf-strale uit selfone (mobiele telefone) moontlik vir die bysterftes verantwoordelik is. Skynbaar versteur die mikrogolwe die bye se instinktiewe navigasievermoë en hulle sterf op soek na hulle kwynende kolonies. Hoewel die oorsaak van die bysterftes nog nie duidelik is nie, kan ’n mens anders as om aan die gesegde – wat dikwels aan Albert Einstein toegeskryf word – te dink nie: “if the bees disappear from the surface of the globe, man [sic] would have no more than four years to live”.