tweeledige ekonomie — Afrikaans
’n Ekonomiese stelsel waarin twee tipes ekonomiese aktiwiteite min of meer ewe belangrik is. Die ekonomiese ontwikkeling van elke land sal – teoreties – deur ’n aantal stadiums gaan. Hierdie stadiums word gekenmerk deur vier onderskeibare tipes ekonomiese aktiwiteite, naamlik: primêre aktiwiteite (boerdery, visvang, mynbou en bosbou), sekondêre aktiwiteite (vervaardiging en konstruksie), tersiêre aktiwiteite (ondersteuningsdienste soos administrasie, verkope en vervoer), en kwaternêre aktiwiteite (wat hoë-tegnologie en inligtings- en kennisdienste insluit). Soms kan meer as een van hierdie tipes ekonomiese aktiwiteite min of meer ewe belangrik vir ’n land se ekonomie wees. Indien só ’n toestand bestaan, het die land ’n tweeledige, of gemengde, ekonomie. Dit is hoegenaamd nie ’n uitsonderlike toestand nie. Die meeste van die ontwikkelde lande (kyk “development” en “developing countries”) het op een of ander stadium ’n tweeledige of gemengde ekonomie gehad. Die mees algemeen-bekende voorbeeld is die militêr-industriële ekonomie van die VSA in die 1950’s en vroeë-1960’s. ’n Tweeledige ekonomiese stelsel kan ’n lang tyd bly bestaan, maar in die meeste gevalle sal een van die tipes ekonomiese aktiwiteite belangriker word, terwyl al die ander tipes ondergeskikte belang sal geniet. Voorbeelde is volop, maar tans is die Wes-Europese ekonomieë die mees paslike voorbeelde. Dekades lank was hierdie state industriële vervaardigingsekonomieë waar vervoer en handel ewe belangrik en onontbeerlik as die voorgenoemde ekonomiese aktiwiteite was. Kwaternêre ekonomiese aktiwiteite het egter nou die sekondêre en tersiêre aktiwiteite in belangrikheid verbygesteek en die vervaardigings- en industriële sektore van hierdie ekonomieë het eintlik heeltemal verdwerg. Duitsland is die opvallende uitsondering. Daar maak vervaardiging nog steeds ’n uiters groot bydrae tot die ekonomie. Die uiteinde van hierdie toestand van sake, is nog ’n ope vraag. (Kyk “quaternary activities”.)