avontuurtoerisme — Afrikaans

Die vrywillige, doelbewuste besoek aan ’n plek of die onderneming van ’n tog wat ’n sekere mate van gevaar of risiko inhou. Die risiko-vlak wat die toeris bereid is om te neem, varieer van laag tot hoog. Bergklim dien as goeie voorbeeld van die ontwikkeling van hierdie tipe toerisme. ’n Klein aantal mense het altyd bergeklim omdat dit vir hulle ’n uitdaging was. Daar was geen nodigheid om die berg te klim nie, en die motivering om dit te doen, was bloot “omdat die berg daar is”, en hoe moeiliker dit was om te klim, hoe groter was die begeerte om dit te doen. Mettertyd het bergklim meer aanhangers gelok. Tegnologiese ontwikkeling het beter bergklimtoerusting geproduseer en moeiliker klimroetes kon met ’n hoër mate van veiligheid aangedurf word. Hierdie “veiligheid” is natuurlik net relatief, maar namate die relatiewe veiligheid toegeneem het, het bergklim ’n groeiende aantal aanhangers gelok. Die grootste uitdaging was natuurlik om die hoogste piek op Aarde, naamlik Berg Everest, te klim. Die eerste doelbewuste, ernstige poging om die piek van Everest te bereik, het in die tragiese dood van George Mallory en Andrew Irvine in 1924 geëindig. Maar pogings om die hoogste punt op Aarde te bereik, het voortgeduur en nog tragiese sterftes het gevolg. Nadat Sir Edmund Hillary en Sherpa Tenzing Norgay uiteindelik in 1953 ’n vlag op die piek van Everest geplant het – en oorleef het om die storie te vertel – het dit ’n onweerstaanbare uitdaging vir groeiende getalle bergklimmers geword om Everest te klim. Die feit dat ’n hele aantal in die proses gesterf het, het dit op ’n perverse manier meer onweerstaanbaar gemaak. ’n Hele toerismebedryf om voornemende klimmers te ondersteun, het ontstaan. Vandag is dit ’n reuse bedryf en ’n baie belangrike deel van die ekonomieë van Tibet en veral Nepal. Deesdae pak mense wat hoegenaamd nie as “bergklimmers” of “atlete” beskryf kan word nie, maar genoeg geld het om reusagtige bedrae te betaal om ’n begeleide en amper-luukse sogenaamde “ekspedisie” te onderneem, die klim aan. Hulle word min of meer gedra, gesleep, gestoot en met behulp van ’n eindelose hoeveelheid suurstofsilinders deur ’n hoogs besoldige span gidse en Sherpas (die inheemste bevolking van die Himalajas) tot op die piek van Everest en terug besorg, maar die gevaar om in die proses te sterf, is nie heeltmal oorkom nie. As die weer skielik verander, kan etlike mense binne ’n paar uur êrens op die berg sterf, soos in Meimaand 1996 gebeur het toe 10 mense in een nag op die berg gesterf het. Die stertesyfers op die berg is verstommend hoog, maar ’n toenemende aantal mense wil dit aanpak en is bereid om “’n arm en ’n been” te betaal om dit te doen – ten spyte van die feit dat die verlies van ’n arm of ’n been hier ’n tragiese realiteit kan wees! Gedurende die 2013-klimseisoen het 580 klimmers die piek bereik, maar agt mense, insluitend twee Sherpas, het omgekom as gevolg van die samedromming van klimmers op die klimroete. Sommige klimmers moes ses uur lank wag om ’n geleentheid te kry om die tegnies-moeilike Hillary Step aan te pak. Daar het menige “verkeersknope” ontstaan op die klimtoue wat deur die Sherpas aan die bergwand bevestig word om die roete aan te dui en waaraan die klimmers hulself vir veiligheid haak. Die Nepalese toerisme-outoriteite het nou besluit om in te gryp om die aantal sterftes te probeer verminder. ’n Permanente leer gaan op die Hillary Step bevestig word en twee verskillende veiligheidstoue gaan gespan word om die opwaartse en die afwaartse “verkeer” te skei. Mens kan bloot die besonderhede in die geskiedenis hierbo uiteengesit, wysig en op witwater-roei, kanoevaarte op gevaarlike riviere, diepwaterduik, ekstreme ski, alleenvaarte rondom die wêreld, of ’n staptoer deur ’n wildernisgebied soos die Kruger Nasionale Park toepas. Die toenemende gewildheid van avontuurtoerisme het reeds ’n beduidende industrie opgelewer. Dis onmoontlik om te voorspel waar hierdie tendens gaan eindig, maar tans maak baie mense oral in die wêreld ’n bestaan uit toeriste wat relatief gewaagde (gevaarlike) togte en aktiwiteite wil aanpak. (Kyk “environmental business”, “carrying capacity”, “alternative tourism” en “accountability”.)