de-aggregasie — Afrikaans

Data in ’n ge-aggregeerde vorm (saamgevoegde of gegroepeerde vorm – sien “aggregasie”), kan suksesvol gebruik word om breë, algemene ontledings van tendense in verskynsels soos gesondheid, armoede, plantegroeitipe en klimaat te maak. Hierdie benadering het die nadeel dat belangrike lokale kenmerke verberg kan word en ruimtelike variasies onderdruk word, wat andersins eintlik belangrik sou wees om van kennis te dra. Op hierdie wyse mag kritieke ongelykhede in risiko ook misgekyk word. Ontledings waarvoor laasgenoemde tipe onderskeiding nodig is, moet eerder gebruik maak van data wat op ’n meer gedetaileerde vlak gedisaggregeer is, ten einde meer gefokusde resultate te kan verskaf. Die proses waardeur dit gedoen word, word na verwys as ruimtelike disaggregasie of afskaling. Die gevolg is dat inligting wat op ’n growwe ruimtelike skaal verskaf is, getransformeer word na ekwivalente inligting op ’n gedetaileerde skaal. Tydens hierdie proses word konsekwentheid met die oorspronklike data gehandhaaf. Sien “aggregasie” en “interpolasie”.