ontwikkeling — Afrikaans

Die vlak van ekonomiese, kulturele en sosiale welstand van ’n spesifieke bevolking of streek of land. Aanvanklik was slegs die ekonomiese welvaart (dit wil sê, die rykdom) van die bevolking gebruik om die ontwikkelingsvlak van die bevolking of land te beskryf. Ekonomiese ontwikkeling is die proses waardeur hulpbronne gebruik word om die menslike welstand te verbeter en hierdie suiwer ekonomiese maatstaf was as die werklike ontwikkelingsvlak van ’n gemeenskap beskou (kyk “developed countries” en “economic growth”). Gelukkig is daar toe besef dat ekonomiese welvaart en armoede relatiewe eerder as absolute konsepte is. Gevolglik is daar besluit dat kulturele en sosiale veranderlikes ook in ag geneem moet word. Die Verenigde Nasies (VN) het toe ’n algemeen aanvaarde maatstaf van ontwikkeling wat ekonomiese, kulturele en sosiale veranderlikes in ag neem, ontwikkel. Die menslike ontwikkelingsindeks (MOI) neem ’n verskeidenheid veranderlikes in berekening, naamlik die per kapita bruto binnelandse produk (BBP) wat ’n maatstaf van die bevolking se ekonomiese welvaart is, die gemiddelde geletterdheidsvlak van die bevolking (’n kulturele maatstaf), en die lewensverwagting wat ’n sosiale maatstaf is. Let daarop dat die MOI in ’n mate ’n relatiewe maatstaf is aangesien dit die per kapita inkomste van die bevolking in ag neem. Die MOI word algemeen gebruik om die ontwikkelingvalk van ’n bevolking of ’n land te beskryf. Die ernstigste kritiek teen die VN se MOI is die feit dat dit nie menseregte en -vryheid van die individu in ag neem nie. Gevolglik kan die ontwikkelingsvlak van ’n bevolking of ’n land nie deur middel van die MOI alleen beskryf word nie. (Kyk “developing countries” en “countries in transition (CITs)”.)