suurreën — Afrikaans

Reënwater is normaalweg effe suur vergeleke met suiwer water. Suiwer water het ’n neutrale pH van 7,0, maar die gemiddelde pH van reënwater is 5,6. Die rede waarom reënwater suurder as suiwer water is, is omdat reënwater klein hoeveelhede opgeloste natuurlike partikels en sommige antropogene (mens-gemaakte) besoedelingstowwe bevat wat as kondensasiekerne dien. Die atmosfeer is nooit heeltemal vry van natuurlike partikels soos stof, as, rook en stuifmeel nie en hierdie stowwe los in die reënwater op namate dit deur die atmosfeer beweeg. Gevolglik bevat alle reënwater klein volumes koolstof-, swael- en stikstofverbindings wat die reënwater na baie swak, verdunde koolsuur-, swaelsuur- en salpetersuur-verbindings verander. Menslike aktiwiteite stel groot volumes besoedelstowwe soos koolstofdioksied-, swaeldioksied- en stikstofverbindings in die atmosfeer vry. Ons noem dit lugbesoedeling (kyk “air pollution”). Al hierdie besoedelingstowwe kan in die vog in die atmosfeer en in reëndruppels oplos en gevolglik het die reëndruppels wat die aardoppervlak tref ’n hoër suurgehalte as normaalweg. Omdat die reën dan meer sure – veral koolsuur en swaelsuur – as gewoonlik bevat, noem ons dit “suurreën”. Die pH van suurreën kan so laag as 5,2 of selfs 5,0 wees en dit is baie meer korroderend as gewone reënwater. Plantegroei sterf as dit vir ’n lang tydperk aan suurreën blootgestel word. Miljoene hektaar sipres-, denne- en berkebome in Noord-Europa en Kanada het reeds gesterf as gevolg van die suurreën wat deur die industrieë van Suid-Europa en die VSA veroorsaak word. Uit ’n geografiese oogpunt is dit baie belangrik dat lugbesoedeling wat op een sekere plek veroorsaak word, tot suurreën op ’n ander plek aanleiding kan gee omdat winde die besoedeling verplaas en versprei. In die oostelike en suid-oostelike Hoëveld van Suid-Afrika (hoofsaaklik in Mpumalanga en Limpopo) kan ’n hele reeks probleme moontlik toegeskryf word aan suurreën wat veroorsaak word deur die lugbesoedeling vanaf die steenkoolaangedrewe kragstasies in die Oostelike Hoëveld en die petrochemiese industrie in Sasolburg en Secunda. Die probleme sluit respiratoriese siektes by kinders, vertraagde groei of afsterwing van denneplantasies en verlaagde grondvrugbaarheid (as gevolg van versuring van die grond) in, maar geen onweerlegbare bewyse van oorsaak en gevolg is tot dusver gevind nie.