klimaatsverandering — Afrikaans

’n Beduidende verandering in die normale langtermyn klimaatstoestande van ’n sekere gebied of gebiede. Sedert die skepping van die Aard-atmosfeersisteem sowat 4 500 miljoen jaar gelede het die samestelling van die atmosfeer onafgebroke verander. Getuienis van hierdie oerveranderings in die samestelling van die atmosfeer is in die gesteentes waaruit die aardkors bestaan, verewig. Die gesteenterekord toon dat die samestelling van die atmosfeer dramaties verander het ná die ontstaan van lewe ongeveer 2 300 miljoen jaar gelede. Die klimaat wat ons vandag ervaar, is ’n baie resente eienskap van die globale omgewingsisteem; dit is inderwaarheid slegs sowat 3 tot 4 miljoen jaar oud. Maar oor daardie periode het die klimaat voortdurend verander. Die geologiese (gesteente), paleontologiese (fossiel) en argeologiese (artefakte) rekords toon duidelik dat klimaat ewigdurend verander. Klimaatsverandering is ’n normale, natuurlike proses en dit vind gewoonlik stadig plaas. Met ons moderne, gesofistikeerde instrumente en tegnologie kon ons vasstel dat die samestelling van die atmosfeer oor die afgelope 50 jaar beduidend verander het, die grootte en dikte van die ysmassas op Aarde oor dieselfde periode onrusbarend gekrimp het, en dat die waargenome temperature op verskillende plekke op Aarde gestyg het. Volgens hierdie metings is die heersende klimaat op Aarde dramaties en kommerwekkend vinnig besig om te verander. Dit wil voorkom asof die globale klimaat warmer word en die term “aardverwarming” is geskep om hierdie verandering te beskryf (kyk “global warming”). Dit is ’n bewese feit dat die konsentrasie van sommige spoorbestanddele in die atmosfeer (veral die koolstofdioksied-konsentrasie) sedert 1850 (dit wil sê, sedert die Industriële Rewolusie) teen ’n versnellende koers toegeneem het. Deesdae is talle internasionale inisiatiewe aktief besig om die antropogene vrystelling van koolstofdioksied te beveg. Die mate van sukses wat tot dusver behaal is, is egter debateerbaar. (Kyk “climate variability”).