kadastrale kaarte — Afrikaans
Kaarte wat die grense van eiendomme, administratiewe grense, eiendomsregistrasie- en grondbesitinligting voorstel. Privaateiendomme en staatsgrond oral in die opgemete wêreld is geregistreer en aktekantore bewaar die dokumentasie oor alle grondtransaksies en grondbesit. Enige kaart wat hierdie grense toon, is ’n kadastrale kaart. Internasionale, distriks-, munisipale en provinsiale grense word ook op hierdie kaarte aangedui. ’n Kaart met ’n relatief groot skaal (soos 1: 50 000) word benodig om plaasgrense aan te dui, maar klein stedelike eiendomme kan nie op hierdie skaal gekarteer word nie. Om die stedelike eiendomme in ’n sekere voorstad of stad voor te stel, benodig mens ’n kaart met ’n groter skaal (soos 1:10 000 of verkieslik 1:1 000). Kadastrale kaarte is onontbeerlik vir stadsbeplanning, dienstevoorsiening, die heffing van eiendomsbelasting, eiendomstransaksies, opklaring van dispute oor grense en eienaarskap, ruimtelike analises, geotegniese ondersoeke, omgewingsimpakbepalings, en baie ander gebruike. In Suid-Afrika is ons gelukkig om uitstekende kadastrale kaartreekse op verskillende skale te hê. Dieselfde kan egter nie vir die res van die ontwikkelende wêreld gesê word nie. Grondeienaarskapstelsels verskil ook van streek tot streek op Aarde. In stamgebiede is grondregistrasie en kadastrale kartering glad nie van toepassing nie. In die voormalige USSR het alle land aan die Staat behoort en geen kadastrale stelsel was ontwikkel totdat die USSR in 1991 ontbind het en private grondbesit deel van hulle nuwe realiteit geword het nie. In die Sahara-woestyn beweeg die Bedoeiëne van oase tot oase (kyk “salinisasion”) en hulle weet nie eers in watter land hulle op enige spesifieke tydstip is nie! Die nomade weet egter watter oase “behoort” aan wie, watter kan gebruik word en watter moet vermy word. Gevolglik het hulle geen behoefte aan kadastrale kaarte om hierdie sake uit te klaar nie. Dieselfde geld vir menige streke soos die Amasone-oerwoude, die Mongoliese woestyne, die stamgebiede in die savannas en weivelde van Oos-Afrika, die barre Patagoniese toendras, die hoë Himalaja-bergreekse, ensovoorts. Inderwaarheid is die grootste gedeelte van die landoppervlak op Aarde nie kadastraal gekarteer nie, aangesien daar nooit ’n behoefte aan was nie.