waterversadiging — Afrikaans

’n Laag of lae poreuse grond, regoliet of substratum (onderliggende rots) wat ten volle waterversadig is, dit wil sê alle tussenkorrelruimtes is heeltemal met water gevul (kyk “aquifer”). Hierdie materiaal kan nie enige verdere water absorbeer nie. Sommige materiaal, soos kleierige of siltryke grond, is meer geneig tot waterversadiging as poreuse materiaal soos sanderige grond. Druk (kompressie) sal moontlik ’n bietjie van die water uit diesanderige massa pers, wat nie die geval met kleie en slikke is nie. Waterversadiging kan ’n hoogs gevaarlike toestand wees in gebiede wat tot grondverskuiwing en moddervloeiing (kyk “mass wasting”) geneig is omdat die toevoeging van enige addisionele water tot massaverplasing van die materiaal kan lei. Boere kan ook baie geldelike verliese en frustrasies ervaar wanneer waterversadiging hulle verhoed om hulle landerye te bewerk. Dieselfde geld ook vir konstruksieprojekte en bou-aktiwiteite omdat hulle vir tydperke geen vordering kan maak nie. Waterversadiging is egter die normale toestand vir vleilande soos moerasse en vleie. Die natuurlewe in vleilande is by waterversadiging aangepas en floreer daar tensy die water besoedel is of met gevaarlike stowwe gekontamineer is.