watergehalte — Afrikaans

Die eienskappe van water wat dit drinkbaar (veilig vir mense om in te neem) of ondrinkbaar maak. Laasgenoemde kategorie water mag wel geskik wees vir diere om te drink, of as besproeiingswater gebruik te word, of moet eers behandel word voordat dit vir enigiets gebruik mag word. Watergehalte word bepaal deur die inhoud van die water, dit wil sê watter en hoeveel onsuiwerhede die water bevat. Water wat as drinkwater in stede en dorpe voorsien word, word aan roetinetoetsing onderwerp. Watertoetsing is deesdae baie maklik en vinnig omdat maklike toetsingstegnieke ontwikkel is omdat dit so dikwels en in so baie laboratoriums gedoen word. Sekere toetse kan selfs in die veld gedoen word, maar hulle is nie baie akkuraat nie en toetsing in ’n goedtoegeruste labaratorium word steeds verkies. Drinkwater moet standaarde van hoë-gehalte bevredig. Hierdie standaarde spesifiseer die maksimum toelaatbare konsentrasies van spesifieke chemiese verbindings wat in die water mag wees, asook dat dit geen skadelike organiese materiaal soos Escherichia Coli of E. coli mag bevat nie. E. coli is afkomstig uit fekale materiaal en dit kan potensieel dodelike siektes by mense veroorsaak terwyl dit geen gevaar vir diere inhou nie. Die aanwesigheid van E. coli dui altyd daarop dat die water met rou rioolafval besoedel is of was. Die standaarde vir menslike drinkwater is min of meer dieselfde dwarsoor die wêreld, maar in sekere lande word dit nie streng afgedwing nie. Afvalwater van sekere mynboubedrywighede bevat radioaktiewe stowwe en/of arseen en/of ander gevaarlike stowwe (kyk “hazardous waste”) en mag nie vir enige doel aangewend word of in die omgewing vrygelaat word alvorens dit nie behandel is nie. Dit is tans ’n hoë-profiel vraagstuk in Suid-Afrika aangesien baie myne gevaarlike afvalwater in die omgewing vrystel. Hierdie myne was nooit onderhewig aan die wetlike vereistes van ons huidige, streng omgewingswetgewing nie en hulle afvalhantering is gevolglik verouderd en neem nóg die omgewing nóg die mense stroomaf van die punt waar afvalwater vrygelaat word, in ag. Dit is gerusstellend dat slegs water van die heel hoogste gehalte in die voedselindustrie en spesifiek vir die vervaardiging van babavoedsel en formulemelk gebruik word. Die gewone drinkwater wat in Suid-Afrika se stede en dorpe voorsien word, is van ’n baie hoë gehalte, maar dit is nie goed genoeg om babaformule mee te vervaardig nie en dit vereis verdere suiwering voordat dit daarvoor gebruik mag word.