teorie — Afrikaans

Albert Einstein het gesê “teorieë is die vrye skeppings van die menslike verstand”. Hierdie aanhaling verklap nie eintlik wat ’n teorie is nie en dit kan as ’n skok kom dat niemand nog die term “teorie” bevredigend kon definieer nie. Tog is die ontwikkeling van teorie die kern van alle verduideliking, en geen waarneming en beskrywing is ooit teorie-vry nie. ’n Teorie is eintlik ’n stelsel van stellings wat bydra tot die begrip van sekere empiriese waarnemings. Die eenvoudigste definiëring van ’n teorie is dat dit ’n “taal” is waardeur waargenome feite verduidelik kan word. Alom-bekende wetenskaplike teorieë is dié van plaattektoniek, oorlewing van die sterkste (kyk “natural selection”), uitsterwing van spesies, evolusie (kyk “evolution” en “natural selection”), stedelike ontwikkeling, ekonomiese ontwikkeling en menslike bevolkingsveranderings (kyk “development”). Alle geografiese modelle is in teorie veranker. Sekere teorieë is hipotese-verifieerbaar deur waarneming en eksperimentering, terwyl andere nie toetsbaar is nie en as postulate bekend staan. Tog kan geografiese teorieë gewoonlik deur empiriese kennis versterk word, en hulle vorm die paradigmas (dink-en-doen-raamwerke) vir geografiese kennis.