biologiese diversiteit, biodiversiteit — Afrikaans
Die verskeidenheid plant- en dierelewe wat in enige spesifieke gebied, habitat, ekosisteem of ekosone voorkom. Die totale variëteit lewende organismes – dit wil sê alle lewendige organismes – in ’n spesifieke gebied word ingesluit. Gewoonlik word mense nie in ’n biodiversiteitsopname ingesluit nie, maar in die werklike betekenis van die term behoort hulle ingesluit te word. Verskillende gebiede op Aarde het verskillende variëteite en verskillende getalle lewende organismes. ’n Gebied met ’n lae biodiversiteit is ’n gebied waar slegs ’n klein aantal lewende spesies en slegs ’n paar individue van elke spesie voorkom. ’n Gebied van hoë biodiversiteit is die teenoorgestelde. Die dravermoë van ’n gebied om biologiese lewe te onderhou, hang af van baie faktore, soos klimaat, grondsoort, hoogte bo seevlak, en menslike aktiwiteite. Warm, sandwoestyne en koue ysmassas is goeie voorbeelde van gebiede met lae biodiversiteit. Lewende organismes is nie geheel en al afwesig uit sulke gebiede nie, maar die aantal spesies en die individue van elke spesie is beperk. Die warm, vogtige, tropiese oerwoude het ’n ryk plantegroei en baie verskillende tipes diere en insekte. Gevolglik verteenwoordig hulle gebiede van hoë biodiversiteit. Hierdie gebiede word die biodiversiteitsparadyse genoem. Die eiland Madagaskar was een van hierdie gebiede met uiters hoë biodiversiteit – ’n ware biodiversiteitsparadys. Ongelukkig het menslike aksies die eiland se biodiversiteit bykans uitgewis deur sekere diere (soos die dodo-voël) tot uitsterwing te jag en die habitatte van vele ander diere en plante deur ontbossing en erosie te vernietig. (Kyk “extinction”, “natural selection” en “habitat destruction”.)