sekondêre ekonomiese aktiwiteite — Afrikaans

Sekondêre ekonomiese aktiwiteite, ook bekend as die sekondêre sektor van ’n ekonomie, is daardie sektor van die ekonomie wat betrokke is by die transformasie van hulpbronne na produkte vir verbruik in die ekonomie en deur die samelewing. Sekondêre ekonomiese aktiwiteite kan in twee sektore verdeel word, naamlik ligte en swaar industrie. Ligte industrie is gewoonlik meer arbeidsintensief, benodig kleiner hoeveelhede grondstowwe en kleiner areas vir produksie. Hulle produksie is ook eerder op eindgebruikers as op ander maatskappye gefokus, en hulle het dikwels ’n beduidend kleiner impak op die omgewing as in die geval van swaar industrie. Voorbeelde sluit in die vervaardiging van voedsel, drank- en tabakprodukte en klere. Swaar industrie is gewoonlik eerder betrokke by die produksie van groot goedere en gebruik produksieprosesse van soortgelyke groot skaal. Dit benodig die intensiewe gebruik van kapitaal, is gebaseer op die verbruik van groot hoeveelhede grondstowwe, behels fasiliteite wat groot areas beslaan en is geassosieer met meer beduidende omgewingsimpakte as ligte industrie. Voorbeelde van swaar industrie sluit in petroleumraffinaderye, chemiese vervaardiging, yster- en staalmeule, en die vervaardiging van industriële masjinerie en transporttoerusting. Sien “tersiêre ekonomiese aktiwiteite”, “kwaternêre ekonomiese aktiwiteite”, “hulpbronne”, “tweeledige ekonomie” en “ekonomiese ontwikkeling”.