sifting — Afrikaans

Die proses waardeur vasgestel word of ’n voorgestelde aksie of ontwikkelingsprojek aan ’n volle omgewingsimpakbepaling (OIB of EIA) onderwerp moet word of nie. Die siftingsproses moet vasstel of die potensiële impakte van die voorgestelde projek die omgewing so beduidend sal/kan impakteer dat ’n volwaardige OIB benodig word voor daar besluit kan word of toestemming vir die projek verleen kan word. Let daarop dat alle voorgestelde projekte deur die siftingsproses moet gaan, maar sekere voorgestelde aksies en projekte hoef nie deur die volle OIB-prosedure te gaan nie. Sifting verskil van omvangbepaling (kyk “scoping”) daarin dat sifting die voorgestelde aksie of projek as ’n geheel of ’n entiteit oorweeg, terwyl omvangbepaling die individuele impakte wat met die projek geassosieer is, oorweeg. Dit is nie altyd maklik om in die siftingsfase ’n besluit te neem nie, en met ’n invloedryke omgewingsdrukgroep en ’n aantal aktiewe, luide omgewings-NRO’s wat die geringste misstap sal bespeur, is die besluitnemende owerhede in die ontwikkelde lande huiwerig om toestemming aan enige aksie of projek te verleen sonder ’n volledige OIB. Om die besluitnemende owerhede tegemoet te kom, is handige kontrolelyste ontwikkel. In Suid-Afrika word twee kontrolelyste vir sifting gebruik: ’n Lys van Aktiwiteite en ’n Lys van Omgewings. Alle aktiwiteite wat in die eerste lys genoem word, en alle omgewings wat in die tweede lys genoem word, moet aan volledige OIB-prosesse onderwerp word. Die oprigting van ’n klein, roomysstalletjie langs die hoofpad deur die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein skyn ’n heeltemal skadelose aktiwiteit te wees, maar omdat dit binne ’n wêrelderfenisterrein is, sal dit volgens die Lys van Omgewings ’n volle OIB vereis. Die bou van ’n kernafval-wegdoeningsfasiliteit in ’n groot, onbewoonde, droë wildernis mag ook onskadelik voorkom, maar omdat daar radio-aktiewe materiaal betrokke is, word daar volgens die Lys van Aktiwiteite ’n volledige OIB-proses vereis. Ten spyte van hierdie handige lyste, is daar ’n goue reël wat in alle ontwikkelde lande gevolg word, naamlik: “In geval van twyfel, doen ’n OIB”. In die ontwikkelende lande (kyk “developing countries”) is sifting nie so ’n streng proses nie, maar dit is nie die ideale toestand nie want die bogenoemde kernafvalfasiliteit kan dalk reg in die middel van ’n nomadiese stam se tradisionele terrein of selfs ’n geheime, heilige gebied wees. ’n Voorstel om ’n plofstoffabriek in die hartjie van ’n stad te bou, benodig natuurlik geen lyste om dit direk na die asblik – oftewel die “no-go”-klas – te verdoem nie.