wetenskaplike hipotese — Afrikaans

’n Wetenskaplike stelling of siening waarvan die waarheid of onwaarheid bepaal kan word. Dit is dus ’n wetenskaplike stelling wat getoets – of geverifieer – kan word en as ’n ware stelling aanvaar kan word of as ’n valse een verwerp kan word. Dit is uiters belangrik dat ’n wetenskaplike hipotese proefondervindelik (dit wil sê empiries) getoets kan word; indien dit nie getoets kan word nie, is dit ’n postulaat, nie ’n hipotese nie. Indien ’n hipotese as korrek bewys word, word dit as ’n ware stelling aanvaar en kan dit as ’n wet beskou word waarop teorie gegrond kan word. Die sogenaamde “harde wetenskappe” soos chemie en fisika, en die sogenaamde “sagte wetenskappe” soos sielkunde en sosiologie het totaal verskillende sienings oor wat ’n hipotese, ’n wet en ’n teorie is. Hoewel geografie die kloof tussen die sagte en die harde wetenskappe oorbrug, neig dit om die fisiese wetenskappe se siening van hipoteses te ondersteun (dit is iets wat spruit uit die kwantifiseringsperiode van die dissipline in die 1970’s en 1980’s), maar hierdie siening was nooit universeel nie en is tans hoegenaamd nie universeel nie.