versouting — Afrikaans
Die proses waardeur oplosbare soute (sekere tipes chemiese stowwe) in grond akkumuleer. Dit is ’n ernstige omgewingsprobleem in warm, droë en half-droë streke. Alle natuurlike water – insluitend grondwater – bevat een of ander hoeveelheid oplosbare chemiese verbindings wat “soute” genoem word. Hierdie verbindings sluit NaCl (gewone tafelsout), ander chloried-, karbonaat- en sulfaatverbindings van natrium, kalsium of magnesium in. Baie gronde bevat ook oplosbare soute en wanneer die grondwater deur die grond beweeg, los dit sommige soute op en word brak (souterig), met ander woorde die soutgehalte van die water styg. In ’n warm, droë klimaat verdamp die water uit die grondprofiel, maar die opgeloste sout bly in die grond agter. Met elke herhaling van die proses, styg die soutkonsentrasie in die grond totdat dit uiteindelik heeltemal nutteloos en onvrugbaar is en geen plantlewe kan onderhou nie. As gevolg van besproeiing in gebiede wat nie daarvoor geskik is nie, het miljoene der miljoene hektaar land oral in wêreld reeds onproduktief en nutteloos geword. In droë en half-droë gebiede is besproeiing noodsaaklik om voedsel te produseer, maar dit moet op so ’n wyse gedoen word dat die grondvrugbaarheid behoue bly. Die tipe grond en die soutgehalte van die besproeiingswater moet bestudeer word sodat die besproeiing nie tot versouting sal lei nie. Sekere gronde moet nooit besproei word nie en sekere water moet nooit vir besproeiing aangewend word nie. Hoewel versouting byna oral in die wêreld kan plaasvind, is Afrika met sy ariede klimaat besonder vatbaar vir versouting. Dit is interessant om daarop te let dat enorme, sirkelvormige sones van versouting oral in die Sahara rondom byna elke oase voorkom. Oases is plekke waar die grondwatervlak na genoeg aan die oppervlak is dat die water deur middel van vlak putte onttrek kan word, of vleilande waar vryvloeiende water ook bekom kan word. Duisende jare lank gebruik mense hierdie water om voedsel onder besproeiing rondom die waterbronne te verbou. Deesdae is hierdie sirkels egter steriele, kaal, nuttelose gedegradeerde kolle van versoute grond. Die water is nog steeds daar, maar die grond is so verbrak dat absoluut niks daarin kan groei nie. Die eeue-oue beeld van ’n oase as ’n groep palmbome en riete (biesies) rondom ’n waterbron waar skadu, voedsel en water in die middel van die harde, droë, warm, lewelose woestyn verkry kon word, geld ongelukkig nie meer nie. Daar is selfs ’n algemeen gebruikte idioom “soos ’n oase in die woestyn”, maar daardie idilliese oases bestaan nie meer nie en binnekort gaan niemand meer verstaan wat die idioom beteken nie!