risiko-bepaling — Afrikaans

In ’n geografiese en omgewingskonteks is risiko-bepaling ’n “skatting” of “estimasie” van die moontlikheid van ’n ongewenste gebeurlikheid of onverwagte negatiewe gevolg van ’n menslike aksie. Die term word baie “los” gebruik en word in menige verskillende wetenskappe en betekenisse gebruik. In die omgewingswetenskappe word dit gebruik om die moontlikheid van waterbesoedeling, gronderosie, lugbesoedeling, habitatverwoesting, dieresterftes en plantegroeivernietiging, ekologiese verandering, vernietiging van ’n vleiland, en talle ander ongewenste gevolge van menslike aktiwiteite te evalueer. Risiko-bepaling is ’n voorspellende tegniek en dit is ’n uiters moeilike ding om in die omgewingswetenskappe te doen omdat dit op ’n stel ekonomiese tegnieke wat moeilik in die omgewingswetenskappe aangewend kan word, gebaseer is. Ekologiese risiko-bepaling het wêreldwyd ’n algemeen gebruikte metode geword, en word ook dikwels in Suid-Afrika gebruik. ’n Omvattende stel riglyne is deur die Omgewingsbeskermingsagentskap (Environmental Protection Agency of EPA) van die Verenigde State van Amerika ontwikkel. Daar bestaan geen gestandaardiseerde metodologie nie, maar risiko-bepaling is inderwaarheid ’n proses wat uit vier onderskeibare aksies gekenmerk word: gevaaridentifisering, gevaarbepaling, risiko-skatting, en risiko-evaluering. Die mees problematiese aspek van enige risiko-bepalingsproses is waarskynlik dat waardes toegeken moet word aan dinge wat nie gemeet kan word nie. Daar is verskeie maniere waarop dit gedoen kan word en die mees toepaslike een moet tydens elke risiko-bepalingsproses gekies word. Die hele proses van risiko-bepaling is grootliks “raaiwerk”, maar ’n ingeligte “raaiskoot” en berekende risiko kan wetenskaplik geregverdig word indien dit met omsigtigheid gebruik word en op vroeëre empiriese ervaring gebaseer kan word.