verantwoordelike toerisme — Afrikaans
Togte en toere deur besoekers wat geen skade berokken aan die besoekte omgewing self (die gasheeromgewing) of die kultuur en lewenstyl van die mense in daardie gebied (die gasheergemeenskap) nie (kyk “host community”). Dit is ook belangrik dat die aantal besoekers nie die dravermoë van die gasheergebied oorskry nie en dat die groot volumes afval wat met top-klas toerisme geassosieerd is, nie die bestemming se vermoë om afvalmateriaal te hanteer, oorweldig nie (kyk “destination” en “carrying capacity”). Toeristefasiliteite moet nooit die natuurlike of mensgemaakte attribute – dit wil sê, hulle bates – beskadig of verwaarloos nie, want hierdie bates is die rede waarom die besoekers daarheen kom. Indien hierdie attribute degradeer, is die bestemming se bates minder aantreklik en die bestemming sal nie meer die gewenste getal besoekers kan lok nie (dit is soos om die gans wat die goue eiers lê, te slag!). Om die volhoubaarheid van die bestemming te verseker, moet die toeriste-attribute met groot sorg volhoubaar bestuur word (kyk “demarketing” en “carrying capacity”). Daar is met reg besorgdheid dat die Kruger Nasionale Park se besoekersdravermoë oorskry word deur groot getalle dagbesoekers en ’n hele aantal nuwe, kleiner kampe wat ontwikkel is. Die Yellow Stone en Yosemite natuurreservate in die VSA, het jare gelede reeds begin om die besoekersgetalle te beperk – en een van die belangrikste oorwegings daarvoor was dat dit sou help om die verkeersknope in die natuurreservate te verminder! Onverantwoordelike toerisme in die vorm van dravermoë-oorskryding en rommelstrooiing ontsier die eertyds-ongeskonde hange van berge soos Everest, Kilimanjaro en McKinley. Enige iets van leë suurstofsilinders tot menslike ekskreta besaai die berghange oral langs die klimroetes. Elke jaar moet spanne Sherpas (kyk “accessibility”, “alternative tourism” en “adventure tourism”) letterlik ’n paar ton rommel en afval van sowel die suidelike as noordelike hange van Everest verwyder (in 2012 is 56 ton afval van die suidelike hang alleen verwyder!). Sanitasiewerkers en skoonmakers is voortdurend besig om rommel en afval van die hange van Kilimanjaro te verwyder. Die feit dat die rommel en afval darem verwyder word, maak die oorskryding van die dravermoë meer aanvaarbaar, maar die eerste beginsel van ekotoerisme en natuurtoerisme, naamlik dat mens niks behalwe jou voetspore moet agterlaat nie, word gerieflikheidshalwe en betreurenswaardig geïgnoreer (kyk “ecological citizenship”, “ecological footprint” en “environmentalist”). ’n Mens kan nie help om te wonder hoeveel mense sal hierdie berge gaan probeer klim as hulle self al hulle afval – insluitend die menslike afval – teen die hange moet afdra! Tans is dit baie gewild by welgestelde, sogenaamde “natuurliefhebbers” om met hulle omgewingsonvriendelike, 4x4-voertuie wat enorme hoeveelhede brandstof verbruik, sommer hulle weg deur bosse of sensitiewe graslande, oor steil hellings, dwarsdeur vleilande, oor sandduine en op strande rond te ry. Om die omgewingskade wat hulle aanrig, te beskryf en verduidelik, sal ’n baie dik boek vul, en hulle sogenaamde “liefde vir die natuur” is meestal oppervlakkig en ongelukkig dikwels niks anders nie as ’n baie dun “groenskerm” om hulle selfvoldane, spoggerigheid te versluier. Uit ’n omgewingsentriese oogpunt gesien, is 4x4-toerisme – uiteraard – onverantwoordelike toerisme. Gegoede toeriste wat deur ’n krotbuurt of plakkerskamp drentel en lekkers aan die kindertjies uitdeel, is soortgelyk onverantwoordelik – hulle gedrag is hoogstens beledigend en kan selfs sosiaal en/of kultureel en uiteindelik polities opruiend wees. Selfs die oseane ontsnap nie die euwels van onverantwoordelike toerisme nie! Skuba- en snorkel-duikers het byna ongelooflike onherstelbare skade aan die Groot Sperrif by Australië, die koraalriwwe van die Maldiwiese Eilande, en feitlik elke ander koraalrif in die wêreld berokken. Die skade wat deur die reusagtige seismiese golf op 26 Desember 2004 aan koraalriwwe gedoen het, word geheel verdwerg deur die verwoesting wat toeriste oor die jare aangerig het! Daar is soveel voorbeelde van onverantwoordelike toerisme en veral top-mark ekotoerisme (wat uiteraard omgewingsonverantwoordelik is) dat mens maklik ’n hele boek daarmee kan vul. Dit is bemoedigend dat daar darem ook toerisme-ondernemings is wat as positiewe voorbeelde van verantwoordelike toerisme kan dien. Hieronder tel die dag-besoeke aan die Galapagos-eilande, toere na Antarktika, dele van die Pantanal, en sekere gedeeltes van Kanada, Alaska en die Amasone-oerwoud.