hulpbronbestuur — Afrikaans
Die beheer oor die gebruik van enige grondstowwe of objekte wat vir die mens van nut is. Twee tipes hulpbronne word onderskei, naamlik natuurlike hulpbronne wat bruikbare grondstowwe is wat ontgin en aangewend kan word om menslike welstand te verbeter; en menslike hulpbronne is daardie goedere wat mense self tot ’n verbeterde lewe vir almal kan bydra. In geografie is ons gemoeid met die bestuur van albei tipes hulpbronne. Natuurlik sien verskillende mense verskillende goedere as hulpbronne; dit is ’n kulturele aspek van menslike bestaan. Ongeag kultuur, is sekere hulpbronne hernubaar en ander is nie. Hernubare hulpbronne is goedere, stowwe en objekte wat herskep word so vinnig (of amper so vinnig) as wat dit verbruik word. Plantegroei, grondwater, diere, suurstof, sonenergie en wind is voorbeelde van sulke hulpbronne. Nie-hernubare hulpbronne word herskep teen ’n veel stadiger koers as waarteen dit verbruik word. Fossielbrandstowwe (kyk “fossil fuel”), ystererts, diamante, goud en ’n aanskoulike natuurlike landskap kan nie herskep word nie, maar gelukkig kan ons sommige daarvan herbruik of hersirkuleer (kyk “recycling”). Grond is ’n besonder problematiese hulpbron om te klassifiseer. Dit kan herskep word, maar teen ’n baie stadiger koers as wat menslike aktiwiteite dit deur erosie kan verloor of kan gedradeer totdat dit totaal onproduktief is. Uit ’n hulpbronbestuurs- en volhoubaarheidsoogpunt is grond op ’n menslike tydskaal nie-hernubaar nie, en baie wetenskaplikes en omgewingsgesindes beskou versnelde gronderosie as die heel ernstigste omgewingsbedreiging. Hulpbronbestuur is eintlik op die volhoubare gebruik van alle tipes hulpbronne gemik. Dit streef na die minimalisering van die verbruik van nie-hernubare hulpbronne en na die stadiger verbruik, en aanmoediging van hernuwing van hernubare hulpbronne. Hulpbronne word deur middel van verskillende metodes geëvalueer en bestuur. Hierdie metodes sluit onder andere die volgende in: beperking van gebruik (dit is, bewaring); ’n verbod op gebruik (dit is, preservering); besoedelingsregulasies; voorgeskrewe rehabilitasie van ’n landskap ná gebruik; toestemming om sekere aksies wat die omgewing negatief kan beïnvloed, uit te voer; asook ’n verskeidenheid van variasies van die reedsgenoemde maatreëls. Die belangrikste bestuurstrategie en die enigste een wat werklik die probleme sal oplos, is die kweking van ’n kultuur van volhoubare gebruik. Maar dit is ’n langtermyn oplossing, en die probleme vereis die onmiddellike optrede wat internasionale konvensies en nasionale wetgewing, regulasies en permittering bied (kyk “international conventions” en “environmental management”).