streek — Afrikaans

’n Twee-dimensionele ruimte op die aardoppervlak van die Aarde. Dit is ’n definieerbare ruimte wat afgebaken (kyk “location” en “demarcation”) en gekarteer kan word. Dit is een van die mees problematiese geografiese terme om te definieer, maar die belangrikste geografiese kwalifikasies is dat daar ’n identifiseerbare homogeniteit binne die ruimte moet wees en dat die ruimte gekarteer kan word (dit wil sê, die grense van die ruimte kan beskryf word). Die grootte van die ruimte is van geen belang nie; ’n streek kan enorme, uitgestrekte gedeeltes van die wêreld en selfs ’n aantal verskillende lande insluit, dit kan ’n hele subkontinent beslaan, dit kan ’n spesifieke gedeelte van ’n land beslaan, of dit kan so klein wees dat dit slegs ’n gebied wat uit ’n paar klein straatblokke van een stad bestaan, beslaan. Die belangrike ding is dat daar ’n gemene faktor binne hierdie gebied moet wees wat dit van ander gebiede onderskei. In Afrika sluit die sogenaamde Groot Mere-streek ’n hele aantal buurstate in wat almal sekere gemene faktore het wat aan hulle ligging naby aan mekaar en groot varswatermassas toe te skryf is. Die Midde-Ooste is ’n streek wat bestaan uit ’n aantal lande wat een belangrike eienskap gemeen het, naamlik dat hulle in ’n gedeelte van die Aarde wat enorme oliereserwes bevat, geleë is. Die Arktiese streek sluit alle landgebied noord van die 66½˚N-breedtelyn (kyk “location”) en dit sluit gedeeltes van ’n hele aantal verskillende lande in, naamlik die VSA (Alaska), Kanada, Noorweë, Swede, Finland, Rusland asook Groenland (wat deur Denemarke geadministreer word). Drie maande van semiduisternis en geweldige lae temperature is die faktore wat hierdie hele streek gemeen het. Selfs gebiede wat heeltemal versplinter is met afsonderlike gedeeltes wat duisende kilometers van mekaar geleë is, kan gerieflikheidshalwe as een streek beskou word. Die graslande van die wêreld is ’n goeie voorbeeld van ’n globale streek hoewel hulle bestaan uit die prêries (“prairies”) van die VSA, die steppe van Rusland, die pampas van Argentinië, die hoëveld en die bosveld van Suid-Afrika, en die savannas van Oos-Afrika. Talle ander natuurlike streke (natuurstreke) kan op grond van globale ligging, klimaat, plantegroei, ensovoorts afgebaken word. Streke wat deur gedeelde (gemeenskaplike) menslike aktiwiteite gedefinieer word, is letterlik ontelbaar. Kultuur, godsdiens, taal, ekonomiese aktiwiteite, kuns, politiese geskiedenis, huidige politiese belange, handelsbetrekkinge, en menige ander menslike faktore wat as ’n gedeelde belang tussen ruimtelike entiteite kan dien, kan genoem word. Die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein is ’n spesifieke, gekarteerde gebied binne ’n groter streek wat talle gefossileerde hominied-bene en -artefakte (vroeë-mense se beendere en gereedskap) bevat. Die belangrikste fossiellokaliteite is geïdentifiseer, afgebaken, gekarteer en tot ’n Wêrelderfenisterrein verklaar. Hierdie status verleen spesiale beskerming aan die afbakende (gedemarkeerde) gebied (kyk “conservation” en “demarcation”), maar die streek waarbinne soortgelyke fossiele kan voorkom, is baie groter as die verklaarde erfenisgebied.