kwaternêre ekonomiese aktiwiteite — Afrikaans

Winsgewende gemoeidheid met hoë-vlak tegnologie, hoë-vlak inligtingsdienste, informasie en bedryfskennis. Ekonomiese aktiwiteite varieer vanaf primêre aktiwiteite (boerdery, visvangs, bosbou en mynbou), tot sekondêre aktiwiteite (soos vervaardiging en konstruksie), tot tersiêre aktiwiteite (soos professionele dienste, toerisme, kleinhandel en vervoer) tot kwaternêre aktiwiteite wat ’n hoë-vlak van kennis en tegnologiese kundigheid vereis. (Kyk “development”, “dual economy”, “developing countries”, “countries in transition (CITs)”, “secondary economic activites” en “tertiary activities”.) Teoreties gaan lande (ekonomieë) deur hierdie fases van ekonomiese aktiwiteite en die meeste van die grootste ekonomieë in die wêreld is nou in die tersiêre en kwaternêre fases. In sommige van die grootste ekonomieë (byvoorbeeld die VSA en Engeland) speel vervaardiging ’n ondergeskikte rol terwyl tersiêre en kwaternêre aktiwiteite die ruggraat van die ekonomie uitmaak. Die risiko verbonde aan só ’n ekonomiese toestand het duidelik geblyk tydens die wêreldwye ekonomiese ineenstorting in 2008. Die hoogs-ontwikkelde ekonomieë soos die VSA, Japan en die Wes-Europese state is ernstig geknou deur die ekonomiese ineenstorting, met die Duitse ekonomie as die opvallende uitsondering. Aangesien Duitsland nog ’n sterk vervaardigings- en industriële sektore gehad het, is die ekonomie beduidend minder aangetas. Sekere ekonomieë (byvoorbeeld die VSA, Brittanje, Frankryk, Italië en Japan en sommige ander Europese lande) is tans aktief besig om weer hulle verwaarloosde vervaardigingsektore te herbou en hulle primêre ekonomiese aktiwiteite te versterk om meer gebalanseerde ekonomieë daar te stel. As gevolg van die byna globale ekonomiese ineenstorting in 2008 het dit duidelik geword dat ’n gesonde ekonomie ’n gesonde balans tussen die primêre, sekondêre, tersiêre en kwaternêre ekonomiese sektore benodig.