primêre data — Afrikaans

’n Reeks waarnemings, metings, feite, ensovoorts, wat verband hou met ’n verteenwoordigende monster van ’n populasie (kyk “demografiese data”) op ’n sekere plek en ’n sekere tydstip. Daar is verskeie erkende data-insamelingsmetodes, byvoorbeeld om op ’n straathoek te staan en te tel hoeveel motors, minibustaxi’s, voetgangers, senior burgers, jong mans wat een spesifieke tipe skoen dra, en enige iets of persone wat in ’n sekere tydperk by daardie spesifieke punt verbybeweeg. Dit kan ook die tel van die aantal indringerplante wat in ’n sekere area gedy, of die meting van die afstand tussen kremetartbome in ’n spesifieke gebied wees. Hierdie tipe data word sommer op die navorser se knypbord of in sy/haar veldnotas aangeteken. Data-insameling kan ook die nagaan van amptelike rekords behels om vas te stel hoeveel mense wettig of onwettig oor ’n spesifieke tydperk die land binnegekom het, aantal mense wat met MIV leef, aantal mense wat sosiale toelae ontvang, die aantal mense wat nie hulle belasting betaal nie, die aantal individue wat op ’n spesifieke tydstip as gevolg van seksuele oortredings in aanhouding is, die aantal renosters wat jaarliks deur wilddiewe binne Suid-Afrika se natuurbewaringsgebiede gedood is om hulle horings in die hande te kry, en vele meer. ’n Algemene manier van data-insameling is die invul van vraelyste. Al die bogenoemde voorbeelde noem ons “data-insameling deur middel van veldwerk”, al vind dit in die hartjie die ’n stad plaas! Die data wat deur middel van veldwerk ingesamel word, is rou en ongeprosesseerd en word primêre data genoem. By wyse van etlike data-verwerkingstegnieke kan die rou data gesorteer, gegroepeer, gekodeer, gekarteer en na inligting verwerk word, soos persentasies, indekse en grafiese voorstellings wat vergelyking met dieselfde eienskappe van ander bevolkings in ander gebiede moontlik maak, verwerk word. Verwerkte primêre data kan die primêre data in ander navorsingsprojekte word, mits die betroubaarheid van die oorspronklike primêre data geverifieer kan word.