bevolkingsgroei — Afrikaans

’n Toename in die aantal individue in ’n definieerbare groep. In ’n statistiese sin kan ’n bevolking ’n nie-lewende versameling objekte (byvoorbeeld motorvoertuie) of ’n groep lewende wesens (soos olifante of vrugtevlieë) wees (kyk “population density”). Aangesien Geografie hoofsaaklik te make het met die ruimtelike verhoudings tussen mense en hulle omgewing dink ons dadelik aan mense wanneer ons die term “bevolking” hoor. Die aantal mense in ’n spesifieke groep binne ’n definieerbare ruimte kan styg as gevolg van migrasie (kyk “migration”) of as gevolg van die geboorte van nuwe individue. Laasgenoemde is die natuurlike bevolkingsgroei en dit verskil van een bevolking na ’n ander (kyk “fertility”). In sommige stede, lande, streke of nasies word meer babas gebore as in andere, gevolglik is die bevolkingsgroeikoers in sekere ruimtelike eenhede hoër as in ander. Aangesien menslike bevolkings sowel in grootte as in kenmerke verskil, is dit moeilik om vergelykings tussen bevolkings te maak en wetenskaplik verdedigbare afleidings oor die bevolkingsgroeikoerse in totaal verskillende bevolkings te maak. Om hierdie probleme te oorkom, word sekere gestandaardiseerde statistieke en indekse gebruik om bevolkingsgroeikoerse op vergelykbare wyse uit te druk. Die kru natuurlike geboortekoers (dit wil sê die aantal babas wat per 1 000 individue van die bevolking gebore word) is een sodanige statistiek en is waarskynlik die algemeenste manier om bevolkingsgroei te beskryf. Die jaarlikse groeikoers word ook algemeen gebruik, maar dit sluit migrante in. ’n Hele aantal ander statistieke kan ook gebruik word om bevolkingsgroei te beskryf. Gevolglik moet ons versigtig kies wanneer ons besluit op ’n statistiek of indeks om die bevolkingsgroei te beskryf. Daar is ’n magdom verskillende faktore wat bevolkingsgroeikoers beïnvloed: kultuur, godsdiens, gesondheidstatus, mediese fasiliteite, regeringsoptrede en wette oor die aantal kinders wat ’n getroude paar mag hê, finansiële oorwegings, migrasie, binnelandse politieke onstabiliteit (kyk “political instability” en “malnutrition”), oorlog, siekte-epidemies, en vele meer. Baie Afrika-state het hoë jaarlikse geboortekoerse, maar as gevolg van sommige van die bogenoemde faktore is hulle bevolkingsgroeikoerse relatief laag. Wanneer ’n ruimtelike eenheid meer mense per jaar deur migrasie of sterfte verloor as wat dit deur geboortes of migrasie ontvang, is die bevolkingsgroeikoers negatief. Sommige Wes-Europese state (byvoorbeeld Swede, Noorweë, Denemarke en Frankryk) en selfs Rusland het negatiewe bevolkingsgroeikoerse en hulle totale bevolkingsgetalle is inderdaad besig om te daal! Die Verenigde State van Amerika is altyd ’n interessante en effe verbasende voorbeeld van ’n land met ’n hoë bevolkingsgroeikoers: die natuurlike bevolkingsgroeikoers is laag, maar die mediese fasiliteite is uitstekend, daar is geen hongersnode of ongekontroleerde siekte-epidemies nie, daar is oorgenoeg kos vir elke individu in die bevolking, die menslike ontwikkelingsindeks (kyk “development”) is relatief hoog, ensovoorts, maar die rede waarom die VSA die hoogste jaarlikse bevolkingsgroeikoers in die wêreld het, is aan migrasie toe te skryf. Mense van oral in die wêreld wil na die VSA migreer. Terwyl die bevolkings van sekere Wes-Europese lande en Rusland aan die krimp is, vergroot die VSA se bevolking soos ’n ballon wat opgeblaas word!