natuurlike seleksie, natuurlike uitkiesing — Afrikaans

Die natuurlike proses waardeur ’n sekere populasie (’n groep individue) binne ’n spesie sy eienskappe oor ’n lang tydperk verander om beter aan te pas by ’n spesifieke gevaar of bedreiging in die omgewing. Die term “natuurlike seleksie” het ’n lang en droewige geskiedenis. Charles Darwin het die term aanvanklik gebruik toe hy sy evolusieteorie in sy beroemde boek On the Origin of Species in 1859 gepubliseer het. Sy teorie is gewaninterpreteer – veral deur die kerklikes – asof dit sou veronderstel dat mense van ape afstam, en dit is definitief nie wat die teorie stateer nie. Die hele teorie en die aanhangers daarvan is verdoem. So baie gevalle van natuurlike seleksie en ewolusie is egter sedertdien gedokumenteer, dat dit doodgewoon nie meer verwerp kán word nie. Alle spesies reageer op een of ander manier op nuwe uitdagings vanuit die omgewing. Een sodanige respons is om die genetiese maaksel te wysig sodat die spesie beter by die omgewingsuitdagings aanpas. So ’n genetiese verandering is dat sekere individue in ’n bevolking se genetiese maaksels effens van die ander s’n verskil en hulle meer bestand maak teen die bedreiging sodat nét hulle oorleef en aanteel. Let daarop dat individue nie ewoleer of verander nie; populasies ewoleer. Moontlik word dit ten beste met behulp van ’n onbetwyfelbare voorbeeld verduidelik. ’n Sekere spesie wit-kleurige mot kom in New York City voor. Dit was uitstekend gekamoefleer in die lig-kleurige stedelike landskap. Maar ná die Industriële Rewolusie (kyk “Industrial Revolution”) het soveel roet op die geboue neergesif dat die hele landskap donker gekleurd was en die wit motte was gevolglik besonder sigbaar en het maklik ten prooi van voëls en ander predatore geval. Die donkerder individue van die populasie is al wat oorgebly het en kon aanteel. Uiteindelik bestaan die hele plaaslike populasie van daardie motte in New York uit donker individue, terwyl die spesie eintlik wit-kleurig is.