akwifeer — Afrikaans

’n Ander naam vir ’n akwifeer is ’n “waterdraer”. Dit is ’n waterhoudende of waterdraende gesteentelaag of -lae (rotslae). Hierdie gesteentes bevat ruimtes (wat ons tussenkorrelruimtes noem) tussen hulle partikels en hierdie ruimtes kan water bevat. Sulke gesteentes is deurdringbaar. Deurdringbare gesteentes bevat tussenkorrel-ruimtes of -porieë waar water kan insyfer en vergader en sodoende die gesteente ’n waterdraer, of ’n akwifeer, maak. Indien ’n boorgat in hierdie gesteentes geboor word, sal die water uit die tussenkorrelruimtes onttrek kan word. Sommige akwifere bevat ekstreme volumes water, en die Ogallala-akwifeer in Kansas en Nebraska, VSA, is waarskynlik die bekendste akwifeer in die wêreld aangesien dit besproeiingswater aan een van die produktiefste landbougebiede in die wêreld voorsien. Onder die sande van die Sahara-woestyn is daar volgens sekere navorsing ’n enorme akwifeer. Indien dit korrek is en die water ekonomies ontgin kan word (dws uitgepomp kan word), kan dit ’n beduidende impak op die politiese en ekonomiese geografie van die wêreld hê. Maar dit beteken nie dat die hele Sahara-woestyn in besproeide landerye omskep kan word nie, omdat die grond kan versout (kyk “salinisation”). Sommige gesteentes is nie deurlaatbaar of deurdringbaar nie en word ondeurlaatbaar genoem. Sulke gesteentes bestaan uit partikels wat so dig teen mekaar gepak is dat water nie tussen die partikels kan vergader nie. Hierdie tipe gesteentes is nie akwifere nie en sal nooit goeie bronne van ondergrondse water wees nie. (Kyk “drainage basin”.)