migrasie — Afrikaans
Die verhuising van mense vanaf een plek na ’n ander. Daar is etlike verskillende tipes migrasie en dit is belangrik om tussen hulle te onderskei om die potensiële kort- en langtermyn gevolge van ’n migrasieproses te beraam. Normaalweg beteken migrasie dat mense hulle woonplek vir die langtermyn van een gebied na ’n ander verskuif. Maar dit is ook algemeen dat mense vir ’n relatief kort periode soos ’n paar jaar in ’n ander plek gaan woon. Soms verhuis mense vir ’n onbepaalde periode na ’n ander plek, maar ná ’n tydperk van verblyf daar, keer hulle terug na hulle oorspronklike tuisgebiede. Selfs uiters kort-termyn migrasie, soos ’n toeristebesoek, word soms as migrasie beskou, maar normaalweg word toerisme nie as migrasie beskou nie. Een tipe menslike verskuiwing wat selde as migrasie beskou word, is die oorgrens beweging van een lid van ’n familie of gesin om vir 11 maande in ’n gasheer-land (kyk “refugee”) te werk en geld te verdien en dan terug te gaan om ’n maand of twee is sy/haar tuisland deur te bring voor hy/sy weer na die gasheer-land terugkeer om geld te verdien. Die rede waarom hierdie tipe menslike verhuising nie as migrasie beskou word nie, is die feit dat die werker se hele uitgebreide gesin nie ook migreer nie en die werker geen voorneme het om permanent in die gasheerland te vestig nie. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is die groeiende getalle migrant-werkers vanaf Zimbabwe, Malawie, Mosambiek, Angola, Somalië en ’n aantal ander Afrika-state wat jaarliks na Suid-Afrika beweeg om hier te werk en geld te verdien omdat daar reuse werkloosheid in hulle tuislande is. Migrasie kan intern wees; dit behels mense wat van een plek in die land na ’n ander plek in dieselfde land verhuis. Verstedeliking verteenwoordig ’n voorbeeld van hierdie tipe migrasie. In ander gevalle verhuis mense tydelik na ’n ander land met die veronderstelling dat hulle nooit weer na hulle land van oorsprong sal terugkeer nie; dit is eksterne migrasie (of emigrasie). Daar is ’n magdom redes waarom mense migreer, maar twee oorkoepelende kategorieë van redes kan onderskei word, naamlik “stootfaktore” (drukfaktore) en “trekfaktore” (aanlokkingsfaktore). Eersgenoemde sluit oorlog, hongersnood, stamtwiste, rassisme, godsdiensonverdraagsaamheid, politiese faksie-aktivisme, armoede en die onvermoë om ’n lewe te maak in. Wanneer migrante as familiegroepe wegbeweeg omdat hulle lewens bedreig word, vlug hulle inderwaarheid en het geen dokumentasie of besittings by hulle nie en word in die gasheerland as hulpbehoewende vlugtelinge hanteer. Migrasie wat deur “trekfaktore” veroorsaak word, is gewoonlik finansieel gemotiveer. Indien ’n land nie ’n aanvaarbare lewenskwaliteit en werksgeleentheid vir sy burgers kan bied nie, verhuis hulle na ’n ander land (kyk “refugee”). Stoot- en trekfaktore is nie altyd maklik van mekaar te onderskei nie. Tans stroom tallose mense uit ’n verskeidenheid Afrika-state – wettig of onwettig – na Suid-Afrika vanweë ekonomiese en/of politieke redes. Hier vind hulle lonende arbeidsgeleenthede wat nie in hulle tuislande beskikbaar is nie. Hulle migrasie is dus deur sowel stoot- as trekfaktore veroorsaak, en dit is moeilik om te besluit watter een van die twee die belangrikste is. Immigrasie (“in-migrasie”) kan ’n enorme uitwerking op die demografiese struktuur (kyk “demographic data” en “population pyramids”) van ’n bevolking hê. Hoewel die Verenigde State van Amerika (VSA) se kru-geboortekoers byna so laag as dié van die welvarende lande van Wes-Europa is, is die VSA se jaarlikse bevolkingsgroeikoers die hoogste is die hele wêreld. Die rede daarvoor is dat mense van oral in die wêreld probeer en dikwels slaag om na die VSA te migreer omdat dit ekonomiese en finansiële geleenthede bied wat nie in enige ander staat bestaan nie.