metadata — Afrikaans

Dit is data en inligting oor data. In enige empiriese studie of ondersoek word data ingesamel, maar al die data is nie noodwendig van dieselfde kwaliteit of aard nie. Sommige data kan kwantitatief wees en ander kwalitatief. Kwantitatiewe data en kwalitatiewe data vereis verskillende analitiese metodes. ’n Navorser moet altyd die aard, akkuraatheid en betroubaarheid van die data wat ingesamel is, analiseer (kyk “primary data”.) In enige navorsingsverslag is dit noodsaaklik om die kwaliteit van die data te bespreek. Die navorser moet dit ook erken indien sekere van die data nie baie betroubaar is nie, verduidelik waarom dit minder betroubaar is en die gebruik van daardie data regverdig. Alle resultate verkry uit die analise van minder betroubare data, moet baie versigtig geëvalueer word. In sekere tipes navorsing is dit moontlik om ’n magdom hoogs betroubare data asook ’n hoeveelheid minder betroubare data in te samel. In só ’n geval word die betroubaarheid van die resultate verlaag tot die vlak van die minder betroubare data, al is die oormag van die data van ’n hoogs betroubare kwaliteit. Indien al die data in ’n studie van ’n lae kwaliteit (lae betroubaarheidsvlak) is, is die resultate natuurlik twyfelagtig en die gevolgtrekkings moet met die grootste sorg gemaak word. Daar is ’n magdom redes waarom data in ’n empiriese ondersoek van ’n lae kwaliteit kan wees. In alle empiriese navorsing is die meta-data van die uiterste belang aangesien dit die betroubaarheid van die gevolgtrekkings bepaal. (Kyk “primary data”.)